Nuus 13:00
BULLETIN 9 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom minister Malatsi se bevestiging oor die terugkeer van die Afrikaanse nuusbulletin op SABC2
# Agt lughawens kry goedkeuring vir instrumentvlug-prosedures
# En rugby: Die reeks oor die Bokke se oorwinning in 2023 se Wêreldbekertoernooi stel ‘n rekord op op M-Net
# Die DA het die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, se bevestiging verwelkom dat ‘n skeduleringsfout die afgelope naweek daartoe gelei het dat die Afrikaanse nuusbulletin op SABC2 nie uitgesaai is nie. Die DA-lid, Willie Aucamp, sê hulle sal voortgaan om die uitsending van die bulletin oor die naweek te monitor om te verseker sulke foute gebeur nie weer nie:
# Die vakbond-federasie Cosatu het die Hooggeregshof in Pretoria se besluit verwelkom om die Raad van Gesondheidsfinansierders te keer om afgewaterde mediesefonds-alternatiewe van die Nasionale Gesondheidsversekering te bied. Die hof het beslis sulke keuses voldoen nie aan die voorgeskrewe minimum voordele ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing nie. Zanele Sabela van Cosatu sê hierdie alternatiewe fondse sal die doelwitte van universele gesondheidsorg ondermyn:
# Suid-Afrika se Lugverkeer- en Navigasiedienste het bevestig dat agt lughawens nou goedgekeurde instrumentvlug-prosedures het. Die stelsels is noodsaaklik vir veilige landings in swak sigbaarheidstoestande. Drie lughawens, Richardsbaai, Upington en Bloemfontein, bly beperk tot goeie sigbaarheid. Die organisasie het dringende instandhouding op hierdie lughawens beloof en die aanstelling van tien nuwe lugverkeersbeamptes bevestig. Hy raai passasiers aan om vlugskedules na te gaan, en verseker voortdurende samewerking om volle veiligheidsbedrywighede te herstel.
# Die GOOD-party sê dis duidelik die Stad Kaapstad versuim om behoorlik voor te berei vir seisoenale veranderinge. Swaar reën het gister wydverspreide oorstromings veroorsaak in gebiede soos Athlone, Nyanga, Mfuleni, Gugulethu en Khayelitsha. GOOD se woordvoerder, Siyabulela Mamkeli, sê die Departement van Stedelike Beweeglikheid se dienslewering is onvoldoende omdat die oorstromings deur verstopte stormwaterdreine veroorsaak word:
# Rugby: Die Springbokke se eenpunt-heldedade tydens 2023 se Wêreldbekertoernooi in Frankryk het verlede jaar gelei tot ‘n reeks wat die rekord verbeter het op M-Net. Die reeks van vyf episides, Chasing the Sun Two – A Story for South Africa, het die meeste kykers gehad vir DStv kanaal 101 se tradisionele fliekaand-gleuf om agt-uur op ‘n Sondagaand, en gewilde Hollywood-produksies en -programme oortref. Multichoice se uitvoerende hoof, Byron du Plessis, sê dis ‘n skitterende voorbeeld van hoe wêreldgehalte storie-vertelling diep in die harte van Suid-Afrikaners weergalm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-64-sent teen die dollar, 21-rand-66-sent teen die euro en 25-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-210-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-44-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….