Nuus 13:00
BULLETIN 6 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kgosientsho Ramokgopa besoek China om Suid-Afrika se energiesekerheid te bevorder
# Die burgemeester van Londen gaan meer magte kry om die naglewe te laat herleef
# En Rugby: Die Blitsbokke is negende in die Singapoer Sewes
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, is op ‘n werksbesoek in China om Suid-Afrika se energiekapasiteit te versterk en sy oorgang na ‘n volhoubare stelsel te bevorder. Die besoek fokus op die verkenning van skoon steenkooltegnologieë, slim mikro-netwerkstelsels en hernubare energie-integrasie. Hierdie inisiatief strook met Suid-Afrika se Mediumtermyn-ontwikkelingsplan, wat daarop gemik is om tegnologieë en vennootskappe te bewerkstellig om te kan voldoen aan die stygende aanvraag na elektrisiteit en die moontlikheid van beurtkrag te verminder.
Intussen het Eskom se voorsitter, Mteto Nyati, het aangekondig die nutsdiens benodig ongeveer 350-miljard-rand binne die volgende dekade om die transmissie-infrastruktuur in Suid-Afrika uit te brei. Daar word beoog om transmissielyne van 14-duisend kilometer by te voeg, wat die kapasiteit vir hernubare energieprojekte sal verbeter. Nyati sê hoewel Eskom die aanvanklike drie jaar self kan befonds, is privaat sektor-belegging daarna noodsaaklik. Hy beklemtoon die bates sal in staatsbesit bly ten spyte van privaat deelname:
# Die burgemeester van Londen, Sadiq Khan, sal meer magte kry om die rompslomp wat “kroeë, klubs en restaurante verstik” te verminder en Engeland se hoofstad se afnemende nag-ekonomie te laat herleef. Khan sal nuwe magte kry om besluite van plaaslike rade te hersien wat laat-dranklisensies in naglewe-fokusareas blokkeer. Indien dit suksesvol is, kan ander burgemeesters in Engeland soortgelyke magte ontvang in ‘n poging om die land se gasvryheidsbedryf, wat alreeds voor die Covid-19-pandemie gesukkel het, te laat herleef. Besighede kla dat die huidige lisensiëringstelsel hindernisse vir groei en belegging skep.
# Rugby: Die Blitsbokke het die beste vir laaste gelos toe hulle tot in die negende plek klaargemaak het in die Singapoer-sewesreeks. Tristan Leyds het ná slegs vier minute reeds twee verdoelde drieë vir die Blitsbokke gedruk. In die tweede helfte het die span se ondeurdringbare verdediging en ‘n drie deur Selvyn Davids, Australiese harte gebreek. Australië kon darem ‘n troosdrie druk, maar Suid-Afrika het ‘n oorweldigende oorwinning van 26-7 behaal. Suid-Afrikaanse ondersteuners sal egter nog lank treur oor die pakslae deur Groot-Brittanje in die openingswedstryd van die toernooi. Kenia en Fidji speel later vandag in die eindstryd.
In nog sportnuus: Wêreldkampioen Max Verstappen in sy Red Bull het die Japannese Grand Prix van kwalifisering tot by die geruite vlag oorheers vir sy eerste oorwinning van die seisoen. Dit was sy vierde agtereenvolgende sege by Suzuka. Verstappen is in sy 64ste Grand Prix-oorwinning toegejuig deur ‘n skare van 115-duisend. Hy het sowat 1,4-sekondes voor McLaren se kampioenskapsvoorloper, Lando Norris, geëindig, met Norris se spanmaat, Oscar Piastri, wat sy 24ste verjaardag met ‘n derde plek gevier het. Norris is nou ‘n skrale een punt voor Verstappen in die renjaerskampioenskap.
# En laastens: Dit is vandag die Internasionale Dag van Sport vir Ontwikkeling en Vrede, wat fokus op die gebruik van sport om die speelvlak gelyk te maak vir maatskaplike insluiting. Globale vennote sal tydens hierdie geleentheid verenig om geslagsgelykheid, rassegeregtigheid en gesonde veroudering te bespreek. Die Verenigde Nasies doen ‘n beroep op alle sektore om sport te omhels en hindernisse te verbreek, stereotipes uit te daag en maatskaplike vooruitgang in die wêreld aan te dryf. Die dag wil ook bewusmaking kweek, suksesverhale vier, vennootskappe versterk en voorspraak maak vir die oplossing van kritieke uitdagings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….