Nuus 13:00
BULLETIN 5 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola sê ’n Amerikaanse kongreslid versprei verkeerde inligting
# Die Blitsbokke kan na ’n magiese oorwinning steeds die kroon opraap in Singapoer
# En Ronin, ‘n Afrika reuse-buidelrot stel ‘n wêreldrekord op vir landmyne uitsnuif
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het ‘n Amerikaanse kongreslid, Troy Nehls, tereggewys omdat hy volgens hom vals inligting oor Suid-Afrika se buitelandse beleid versprei. Dit volg nadat Nehls die Afrikaner-wet ter tafel gelê het wat prioriteit-2-vlugtelingstatus aan Suid-Afrika se wit Afrikaner-minderheid toestaan weens beweerde menseregteskendings. Lamola ontken Nehls se bewerings, en sê dis vals en propagandisties. Hy beweer dit gee ʼn wanvoorstelling van Suid-Afrika se buitelandse beleid. Lamola herhaal dat die land verbind is tot ʼn onafhanklike buitelandse beleid volgens nasionale belange en die internasionale wet.
Intussen sê die voormalige hoof van Goldman Sachs vir Afrika suid van die Sahara, Colin Coleman, Amerikaanse tariewe wat president Donald Trump op Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte ingestel het, kan ná sy presidensiële termyn voortduur. Coleman het by die agtste PGM-bedryfsdag gesê die heffing van 31-persent dui op ʼn langtermynverskuiwing in Amerikaanse beleid. Hy waarsku Suid-Afrika moet gereedmaak vir voortgesette ekonomiese druk, en noem die uitwerking op handel en mynbou. Hy sê beter mededingendheid en veerkragtigheid is nodig om aan te pas by faktore wat groei wêreldwyd bevorder.
# Pikitup stel die naweek ʼn herstelplan vir vullisverwydering in om agterstande in te haal wat veroorsaak is nadat twee werksdae vroeër die week verlore gegaan het. Dis veroorsaak deur werkers wat betoog omdat vervoerdienste opgeskort is toe die taxi-bedryf kommer oor veiligheid uitgespreek het. Woordvoerder Muzi Mkhwanazi sê inwoners moet hul vullisblikke die naweek buite sit sodat dit leeggemaak kan word:
# Rugby: Die Blitsbokke het ʼn wonderwerk nodig gehad ná hul nederlaag teen Groot-Brittanje. Hulle het dit gekry met ʼn naelskraapse oorwinning oor Argentinië en hul hoop op ʼn Singapoer-sege lewend gehou. Die Suid-Afrikaners het met rustyd ʼn voorsprong van twee punte bo die wêreldvoorlopers Argentinië gehad. Na ʼn spannende tweede helfte het die Blitsbokke twee minute in ekstra-tyd die wendrie gedruk en met 26-24 gewen om moontlik die uitspeelrondes te haal.
# Motorsport: Die viermalige wêreldkampioen Max Verstappen het die baanrekord verbeter en die voorste wegspringposisie vir Sondag se Japannese Grand Prix voor Lando Norris van McLaren se neus weggeraap. Verstappen het ʼn blitsige ronde van een-minuut 26,983-sekondes in sy Red Bull behaal, met kampioenskapsleier Norris tweede en Oscar Piastri van McLaren derde. Verstappen, wat die Japannese Grand Prix die afgelope drie jaar gewen het, het in die finale rondte ʼn nuwe Suzuka-baanrekord opgestel. Dis die Nederlander se eerste wegspringposisie hierdie seisoen en hy het in die huidige kampioenskapveldtog nog nie ‘n Grand Prix gewen nie.
# ‘n Landmyn-jagrot in Kambodja, het ‘n wêreldrekord opgestel deur meer as 100 landmyne en stukkies plofbare materiaal op te spoor. Ronin, ‘n Afrika reuse-buidelrot, het al 109 landmyne en 15 ander moontlike dodelike oorlogsoorblyfsels sedert sy ontplooiing in Augustus 2021 uitgesnuffel. Die Belgiese liefdadigheidsorganisasie APOPO sê die vyfjarige Ronin is die mees suksesvolle landmynopsporingsrot in die geskiedenis van die organisasie. Sy merkwaardige prestasie het hom die Guinness Wêreldrekord-titel besorge vir die meeste landmyne deur ‘n rot opgespoor, wat die kritieke rol van HeldeRotte in humanitêre landmynontdekkings beklemtoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….