Nuus 13:00
BULLETIN 4 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Defend South Africa sê Ramaphosa moet bedank
# Action Society waarsku die voorgestelde wysigings aan privaat sekerheidsregulasies kan openbare veiligheid benadeel
# En, wêreldmarkte is in beroering na Trump se tariefaankondigings
# Die Defend South Africa-beweging doen ‘n beroep dat president Cyril Ramaphosa onmiddellik bedank. Die beweging ruk vandag op na die Uniegebou in Pretoria en sê hulle beplan om die president se kantoor vreedsaam te beset tot hulle eise aangespreek word. Die nasionale koördineerder, Tumelo Mooki, sê Ramaphosa se opgang na die presidentskap is gekenmerk deur korrupsie en om alles te kroon, is die ekonomie in ʼn krisis:
# Action Society sê die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Regulering van die Privaat Sekerheidsbedryf kan misdaadvoorkoming verswak en gemeenskappe in gevaar stel. Hulle is gekant teen vae vuurwapen-beperkings, die skorsing van sekerheidsfirmas wat ondersoek word sonder enige bewyse van misdaad, en die verbod op semi-outomatiese wapens vir sekerheidspersoneel. Juanita du Preez van die organisasie moedig die publiek aan om die regulasies te verwerp en waarsku dat kwesbare geemeenskappe sonder voldoende beskerming gelaat sal word, veral waar bendes aktief is:
# President Donald Trump van Amerika hou vol sy wêreldwye tariefpakket sal die ekonomie bevorder. Al drie groot Amerikaanse aandelemarkte het Donderdag laer gesluit, hul ergste dag sedert Junie 2020. Nasdaq het met ses-persent geval terwyl die S&P 500 en die Dow onderskeidelik met 4,8-persent en 3,9-persent gedaal het. Die wêreldmarkte het ook skerp gedaal. Trump sê die markte se reaksie is te wagte, maar vertrou dit sal gou weer regkom:
# Rugby: Springbok-heelagter, Willie le Roux, het sy kontrak met die Bulle tot Junie 2027 verleng. Sedert hy aan die einde van die 2023 Wêreldbeker by Loftus in Pretoria opgedaag het, het hy 29 keer op die veld gedraf in die Verenigde Rugbykampioenskap en die Kampioenebeker. Die veelsydige agterspeler en dubbelle-Wêreldbeker-wenner het aanvanklik ‘n driejaar-kontrak geteken wat tot die einde van Junie 2026 in werking sou wees. Le Roux sê die volgende 12 weke is baie belangrik vir die Bulle, want hulle is in die uitkloprondtes van kompetisies en daar is geen tweede kanse nie.
#Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-492-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-92-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-64-sent per vat.
# En laastens, We’re Against Starvation, oftewel die WAS-stigting se Shopping with Love-projek gee waardigheid en hoop aan hawelose mense in Krugersdorp-Wes in Gauteng. Begunstigdes kan klere en skoene wat geskenk is, gratis “koop” en so hulle selfbeeld en selfvertroue ʼn hupstoot te gee. Die WAS-stigter, Esmarelda Van Zyl-Kilian, sê goedhartige ondersteuners maak die projek moontlik. Sy sê die skenkings voorsien nie net in noodsaaklike behoeftes nie, maar maak lewens beter en bevorder deernis in die gemeenskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….