Nuus 13:00
BULLETIN 3 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal in die Marry Me-moorde styg tot sewe
# COSATU hou die Nasionale Vervolgingsgesag aanspreeklik vir Omotoso se vryspraak
# En Louis Liebenberg se borgtog-aansoek word uitgestel tot 2 Julie
# Die dodetal in die moorde in die Marry Me-informele nedersetting in Soshanguve, Pretoria, het tot sewe gestyg nadat nog ‘n gemeenskapswag in die hospitaal gesterf het. Die nag-patrolleerders wat vrywillig misdaad beveg, is verlede maand aangeval. Inwoners eis dat die gebied geformaliseer moet word om misdaad te bekamp. Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het tydens ‘n gemeenskaps-imbizo ‘n gespesialiseerde taakspan aangekondig om misdaad aan te pak en het ‘n verhoogde polisieteenwoordigheid beloof om veiligheid te herstel in Soshanguve en omliggende townships.
# Cosatu sê hy is woedend en diep ontsteld omdat die Nasionale Vervolgingsgesag versuim het om ‘n skuldigbevinding te verseker in die Timothy Omotoso-saak. Die televisie-evangelis en sy medebeskuldigdes, Lusanda Solani en Zikiswa Sitho, is vrygespreek aan al 32 aanklagte, insluitend verkragting, seksuele aanranding, rampokkery en mensehandel. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die vakverbond is veral woedend omdat hierdie uitspraak volg ná die tragiese dood van die verklikker en voorstander vir slagoffers se regte, Pamela Mabini:
# Die borgtog-aansoek van die beweerde diamant-bedrieër Louis Liebenberg is in die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng, tot 2 Julie uitgestel. Sy regspan het langer tyd gevra om met hom te beraadslaag. Liebenberg en sy agt medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog, rampokkery, geldwassery en oortreding van die Wet op Maatskappye. Hy het na bewering ‘n onwettige diamantskema van 4,5-miljard-rand bedryf. Liebenberg bly in aanhouding en het versoek dat hy vanuit die C-Max-afdeling van die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria oorgeplaas word vir privaat vergaderings met sy regspan.
# Motorsport: Die Mexikaanse renjaer Sergio Perez hoop om volgende seisoen na Formule Een terug te keer nadat hy Red Bull einde verlede jaar verlaat het. Die 35-jarige kon in 2024 nie ‘n enkele wedren wen nie nadat hy in 2023 tweede was na sy Nederlandse spanmaat, Max Verstappen. Dit was sy swakste seisoen sedert hy in 2021 by Red Bull aangesluit het. Perez sê verskeie spanne het hom genader. Hy het beloof om slegs terug te keer as hy tevrede is met die vooruitsigte.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-649-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-128-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-97-sent per vat.
# En laastens, kenners sê die rekord-lae ysbedekking op die see in die Noordpoolgebied is ‘n teken van ʼn klimaatsveranderingkrisis. Arktiese see-ys beslaan tans 14,33-miljoen vierkante kilometer. Dit is die laagste sedert daar 47 jaar gelede met rekordhouding begin is. Julianne Stuva van die Nasionale Sneeu- en Ys-datasentrum sê die hoeveelheid ys op die Arktiese See sal steeds minder raak weens ʼn kombinasie van hoër temperature, warm seewater en die wind wat ys laat opbreek. Sy sê dit word alles aan die klimaatskrisis toegeskryf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….