Nuus 13:00
BULLETIN 2 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis die afdanking van 10 seksoortreders wat steeds in Gauteng skoolhou
# UDM veroordeel die Onderwysdepartement oor puttoilette
# En die derde sluis van die Vaaldam word oopgemaak om uitvloei te beheer
# Die DA in Gauteng eis die onmiddellike afdanking van tien onderwysers wat veroordeelde seksoortreders is, maar steeds skoolhou. Die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het dit onthul na aanleiding van die party se vrae in die wetgewer. Michael Waters van die DA sê volgens Chiloane is 40 onderwysers die afgelope drie jaar deur ‘n hof skuldig bevind aan seksuele oortredings:
Die UDM het intussen teleurstelling uitgespreek omdat die Departement van Basiese Onderwys versuim het om die sperdatum van 31 Maart te haal vir die uitwissing van puttoilette in skole. Daar word beweer 93-persent van die puttoilette is verwyder, maar baie skole worstel steeds sonder behoorlike sanitasie. Yongama Zigebe van die UDM sê die party eis ‘n deursigtige oudit en ‘n tydgekoppelde plan om hierdie krisis aan te pak wat duisende leerders raak:
# Die Departement van Water en Sanitasie het ʼn derde sluis van die Vaaldam oopgemaak om die uitvloei te verhoog en invloei te bestuur. Die dam se huidige watervlak staan op 107,3-persent. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die groter uitvloei van die Vaaldam sal die Bloemhofdam na verwagting binne drie tot vier dae bereik en die watervlak laat styg, wat beheer sal word deur die uitvloei geleidelik te verhoog:
# Krieket: Nieu-Seeland het Pakistan met 84 lopies verslaan in die tweede eendagwedstryd in Hamilton om ‘n onaanvegbare voorsprong van 2-0 op te bou in die reeks van drie kragmetings. Mitchell Hay het ‘n onoorwonne 99 van 78 gemoker om die Swartpette na 292 vir agt te neem in hulle 50 boulbeurte. Ben Sears het vyf paaltjies geneem met sy eendag-buiging en Pakistan is vir 208 uitgeboul in hulle 42ste boulbeurt. Die laaste wedstryd sal Vrydag in Mount Maunganui gespeel word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-145-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-129-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-18-sent per vat.
# En laastens: Die Komodo Nasionale Park in Indonesië is die mooiste plek op aarde volgens reisigers wat aan TimeOut se meningspeiling deelgeneem het. Die UNESCO-wêrelderfenisgebied is ‘n uitsonderlike plek met drie reusestrande met wit, swart en pienk sand. Tweede op die lys is die Victoria-waterval op die grens tussen Zimbabwe en Zambië wat die grootste waterval in die wêreld is. Die Punakha-vallei in Bhoetan is derde en Stormsrivier in die Oos-Kaap is 21ste op die lys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….