Nuus 13:00
BULLETIN 1 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse mynondernemings tree in nadat Amerika MIV- hulpverlening stop
# ActionSA sê hy sal verseker burgers word beskerm teen buitensporige belasting
# En tennis: Die Miami-ope-kampioen het byna nie in die toernooi gespeel nie
# Suid-Afrikaanse mynondernemings en die versekeraar Discovery het ingetree om die leemte te vul nadat Amerikaanse hulpverlening aan MIV-programme in Afrika gestaak is. Die Departement van Gesondheid het mynondernemings gevra om te help met die verspreiding van MIV-middels en gemeenskapsuitreike uit te brei. Kenners waarsku terwyl 7,8-miljoen Suid-Afrikaners met MIV leef, kan 25 jaar se vordering nou omgekeer word. Impala Platinum en ander ondernemings sal met die regering vergader om oplossings te bespreek te midde van toenemende kommer oor openbare gesondheid.
# ActionSA sê die party het met die ANC vergader om die benadering tot die nasionale begroting te bespreek. Die ANC het met partye binne en buite die regering van nasionale eenheid vergader om ‘n ooreenkoms oor die begroting te bereik voor die Parlement môre daaroor stem. Alan Beesley van ActionSA sê die party het ‘n lang lys van sy begrotingshervormings opsy gesit in ruil vir sy voorwaardelike ondersteuning van die begroting se goedkeuring, met streng voorwaardes:
# Die Stad Tshwane se raad het die Tshwane Voertuigstad-meesterplan goedgekeur. Hulle wil die metro omskep in die voorste bestemming vir beleggings in die voertuigbedryf deur ‘n spesiale ekonomiese sone te vestig met die klem op voertuigvervaardiging en -vernuwing. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê die ontwikkeling sal sowat 150-duisend regstreekse en onregstreekse werkgeleenthede skep:
# Tennis: Die Miami Ope-kampioen, Jakub Mensik, het byna nie in die toernooi gespeel nie. Die 19-jarige Tsjeg wou die toernooi-skeidsregter inlig hy kan nie sy eerste wedstryd teen die Spanjaard Roberto Bautista Agut speel nie weens inflammasie in die knie. Die skeidsregter was egter op middagete en Mensik is na sy fisioterapeut, wat hom ander pynpille voorgeskryf het. Hy het daarna sy eerste wedstryd en uiteindelik die titel gewen. Mensik se algehele prysgeld het nou opgeskiet na 55,6-miljoen-rand, en sy posisie op die wêreldranglys van 54ste na 24ste.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-270-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-132-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-47-sent per vat.
# En laastens, die NASA-ruimtevaarders wat op die Internasionale Ruimtestasie gestrand was, sê dit was vreemd om weer by die lewe op aarde aan te pas. Butch Wilmore en Suni Williams se sending sou agt dae duur, maar hulle moes uiteindelik nege maande bly nadat hulle Boeing Starliner tegniese probleme ontwikkel het. Hulle het uiteindelik op 19 Maart op die SpaceX Dragon teruggekeer. Williams het die eerste keer met die media gepraat en sê hulle het nooit gevoel hulle is vasgekeer nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….