Nuus 13:00
BULLETIN 27 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube kondig die aanstelling van nuwe lede vir die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad aan
# Zambië verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Lungu se begrafnis
# En tennis: Williams en Fernandez is promotorskeuses vir die Amerikaanse Ope se vroue-dubbelspel
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het aangekondig Penelope Vinjevold is aangestel as die nuwe voorsitter van die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad. Sy is ‘n voormalige hoof van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. Gwarube sê die raad, wat in 2009 gestig is, bestaan nou uit 15 nuwe lede en word herleef om sy belangrike mandaat te vervul. Die minister sê dis die eerste keer dat die raad ingestel word en in bedryf is
# Die Zambiese regering sê hy is steeds verbind tot samewerking met oudpresident Edgar Lungu se familie oor sy begrafnisreëlings wat hul wense en staatsverpligtinge balanseer. Dit volg nadat Suid-Afrika se Konstitusionele Hof die Lungu-familie se regstreekse appèl teen ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys het. Lungu is op 5 Junie in Suid-Afrika oorlede. Die kabinetsekretaris, Patrick Kangwa, het ook Zambiese burgers bedank vir hul ondersteuning:
Nuus uit die Midde-Ooste:
# Katolieke en Grieks-Ortodokse priesters en nonne sal in Gaza-stad aanbly ondanks Israel se plan om die stad militêr oor te neem. Die godsdiens-gemeenskappe het in ‘n gesamentlike verklaring gesê ontruimingsbevele is reeds vir verskeie woonbuurte in Gaza-stad uitgereik. Honderde ontheemdes het sedert die uitbreek van die oorlog in die Grieks-Ortodokse kamp van Sint Porfirius en die Katolieke Heilige Familie-kamp begin woon, insluitende kinders en persone met spesiale behoeftes. Israelse dwaalskote het die Heilige Familiekerk verlede maand getref en drie mense is dood en tien gewond.
# Tennis: Die Amerikaner Venus Williams en Leylah Fernandez van Kanada speel as promotorskeuse saam in die Amerikaanse Ope se dubbelspel vir vroue. Williams het al twee keer die titel verower op Flushing Meadows. Die twee is onder sewe promotorskeuses in die trekking. Die 45-jarige Williams, wat verlede maand na 16 maande na die toer teruggekeer het, sê sy is verheug om terug te wees op die baan en sonder pyn te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-993-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-382-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-36-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Mere, wat sowat vier-persent van die aarde se landoppervlakte bedek, verdwyn teen ‘n ontstellende tempo weens besoedeling, verlies aan habitat, indringerspesies en klimaatverandering. Dis vandag Wêreld-meredag, wat bewustheid wil aanwakker oor die belangrikheid van mere en onderhoubare bestuur daarvan en verwante ekostelsels. Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram waarsku dat mere se ekostelsels teen 2050 met 20-persent kan daal, besoedeling kan meer as verdubbel en metaanafskeidings kan die hoogte inskiet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….