Nuus 13:00
BULLETIN 29 Maart 13 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Afrikanerbond bly oortuig Malema is ‘n reeksoortreder van haatspraak
# Die Raad van die Lughawensmaatskappy vra ‘n forensiese ondersoek na beweerde verkrygingsongerymdhede
# En, Rugby: Nieu-Seeland oorrompel die Blitsbokke by die Hongkong-sewes
# Die Afrikanerbond sê hy bly oortuig dat die EFF-leier, Julius Malema, ‘n reeksoortreder van haatspraak is en dat sy aanhitsing regstreek verband hou met misdaad, veral plaasaanvalle en plaasmoorde. Die uitspraak van die Konstitusionele Hof om Kill the Boer as haatspraak te verklaar, is gelewer sonder om betoë aan te hoor. Die hoofsekretaris van die bond, Jan Bosman, sê die ANC en die EFF se sogenaamde onverantwoordelike flirtasie met rewolusie baan die weg vir hul volgelinge om geweld en populisme te pleeg deurdat hul leiers hulle daartoe aanhits:
# Eskom sê hoewel beurtkrag steeds opgeskort bly weens ‘n stabiele kragnetwerk, kon hy op ‘n jaargrondslag meer as 16-miljard rand op besteding en dieselgebruik te bespaar. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dit weerspieël ‘n besparing van 50-komma-8 persent besparing, vergeleke met die 33-komma-35 miljard rand wat in dieselfde tydperk verlede jaar bestee is. Sy sê Kusile Eenheid 2 sal teen die einde van die maand weer aan die herstelde rook-ontswawelingstelsel en hoof-netwerk gekoppel wees:
Die raad van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê hy gaan ‘n onafhanklike firma aanstel en gaan ook die ouditeur-generaal vra om bewerings van onreëlmatighede met verkryging te ondersoek. Die maatskappy sê dit volg op berigte dat onreëlmatighede moontlik voorgekom het in die aanstelling van onafhanklike bod-evalueerders en bykomende hulpbronne om ACSA se departement van verkrygingskettingsbestuur te ondersteun.
#’n Reddingspan van China het in Mianmar se vorige hoofstad, Yangon, aangekom, terwyl Rusland en Amerika ook humanitêre bystand en hulp verleen ná gister se verwoestende aardbewing waarin meer as duisend mense dood is. China se president, Xi Jinping het ‘n boodskap van medelye aan Mianmar se leier, Min Aung Hlaing, gestuur. Volgens China se ambassade in Mianmar was hulle in telefoniese verbinding. Die land se staatsmedia berig dat geboue in vyf stede en dorpe in duie gestort het, asook ‘n brug en ‘n treinbrug oor die Yangon-Mandalay-snelweg.
# Rugby: Die Blitsbokke is uit die Hongkong-sewes uitgeskakel toe Nieu-Seeland hulle vanoggend in hul Groep B-kragmeting met 17-7 geklop het. Die Nieu-Seelanders het teen rustyd reed 12-0 voorgeloop. Hulle het in die eerste helfte die balbesit oorheers en Cody Vai en Dylan Collier het vir twee drieë deurgedraf. Ngarohi McGarvey-Black het dit verdoel. Vir Suid-Afrika het Donovan Don in die doodsnikke van die wedstryd ‘n troosdrie gaan druk, maar die wedstryd was reeds gewonne en die Blitsbokke se kans om die toernooi vir die eerste keer te wen, was van die baan.
# En ter afsluiting, die Stad Kaapstad sê hy is verheug oor die boek, French Cinema deur Roy Armes, wat aan die biblioteek terugbesorg is tydens sy boetevrye week. Die boek oor die geskiedenis van die Franse filmbedryf moes oorspronklik in Maart 2001 terugbesorg word. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die persoon het die boek ontdek toe hy sy gebergde besittings uigesorteer het en het besluit om dit terug te gee:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….