Nuus 13:00
BULLETIN 28 Maart 1 n
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet ondersteun die onttrekking van regulasies vir daggavoedselprodukte vir verdere bespreking
# Trump se tariewe op ingevoerde voertuie en onderdele word sterk veroordeel terwyl die handelsoorlog verdiep
# En MTN en Lynk Global voltooi ‘n suksesvolle toets van die eerste satelliet-na-mobiele telefoonoproep
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet steun die onttrekking van regulasies rakende daggavoedselprodukte vir verdere raadpleging. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling koördineer tussendepartementele konsepregulasies vir die inwerkingstelling van die Wet op Daggagebruik vir Privaat Doeleindes. Ntshavheni sê meer insette sal van belanghebbendes verkry word om duidelike en doeltreffende riglyne te verseker, wat die balans tussen openbare gesondheidsorg en die groei van die bedryf handhaaf:
# Die Stad Tshwane sê hy het aansienlike vordering gemaak om sy agterstallige skuld van meer as ses-miljard-rand aan Eskom te vereffen. Die veelparty-regering het ‘n miljard-rand van die skuld afbetaal danksy beter inkomste-invordering. ‘n Metrowoordvoerder, Zonke Mahlangu, sê inwoners wie se rekeninge steeds agterstallig is, word aangeraai om ooreenkomste te bereik om hul skuld te betaal sodat Tshwane kan voortgaan om sy skuldverpligtinge na te kom:
# Wêreldmoondhede het die Amerikaanse president, Donald Trump, se strawwe tariewe op ingevoerde voertuie en onderdele gekritiseer en met vergelding gedreig terwyl die toenemende handelsoorlog verskerp. Motoruitvoerder Duitsland het die Europese unie gevra om ferm op te tree terwyl Japan sê hy sal alle moontlikhede oorweeg. Die Amerikaanse tariewe tree op 3 April in werking en sal buitelands-vervaardigde motors, ligte vragmotors en belangrike motoronderdele raak. Aandelemarkte het skerp gedaal, met Toyota, Hyundai en Mercedes aan die voorpunt. In New York het die aandele van General Motors, Ford en Stellantis ook afgeneem.
# Krieket: Michael Bracewell sal Nieu-Seeland in die reeks van vyf eendagwedstryde teen Pakistan aanvoer nadat Tom Latham weens ‘n handbesering moes onttrek. Latham sou instaan vir die gereelde kaptein, Mitchell Santner, wat aan die Indiese Premierliga deelneem, maar het sy hand gebreek gedurende oefeninge in die nette. Hy sal minstens ‘n maand uit wees. Bracewell het die Swartpette gelei in die T20-reeks teen Pakistan, wat Nieu-Seeland 4-1 gewen het. Die eerste eendagwedstryd sal môre in Napier gespeel word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-205-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-71-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-18-sent per vat.
# En laastens, MTN Suid-Afrika en Lynk Global het ‘n suksesvolle toets van die eerste satelliet-na-mobiele telefoonoproep in Vryburg, Noord-Wes, voltooi. Volgens My Broadband, het die proeflopie stem- en SMS-moontlikhede oor ‘n lae-aarde-satellietverbinding getoets. MTN se uitvoerende hoof, Charles Molapisi, verklaar dat hierdie tegnologie die bestaande infrastruktuur kan aanvul en die dekking in landelike gebiede kan verbeter. Hy sê die suksesvolle toets is ‘n stap vorentoe om 99-persent breëbanddekking te verskaf en kommunikasie in onderbediende gebiede te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….