Nuus 13:00
BULLETIN 27 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump bevestig Bozell as die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika
# ‘n Johannesburgse mansgesondheidskliniek sluit weens bevriesing van Amerikaanse befondsing
# En minister Godongwana word gevra om SEB-premies en die BTW-las op armes te verlig
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Brent Bozell aangestel as ambassadeur in Suid-Afrika as opvolger vir Reuben Brigety. Bozell is ‘n oortuigde mediakritikus en het die Media Research Centre gestig, wat kritiek lewer op waargenome liberale mediabevooroordeeldheid. Trump sê Bozell bring vreeslose volharding, buitengewone ondervinding en uitgebreide kennis na ‘n land wat dit broodnodig het. Sy aanstelling volg te midde van gespanne verhoudings tussen die twee lande oor kwessies soos die voormalige ambassadeur, Ebrahim Rasool, se uitsetting uit Amerika en Suid-Afrika se onteieningsbeleid.
Die Engage mansgesondheidskliniek in Johannesburg sluit intussen weens die bevriesing van Amerikaanse hulp. Die USAID en Pepfar-befondsde kliniek het MIV-behandeling vir die LGBTQI+ gemeenskap verskaf. Die personeel is in Januarie op onbetaalde verlof geplaas nadat Trump die befondsing opgeskort het. Meer as 70 werknemers kan nou hulle werk verloor. Projekbestuurder Joseph Adams het aan Africa News gesê die sluiting raak menselewens en toegang tot gesondheidsorg. Engage gaan sy bates opveil om salarisse te betaal, terwyl kommer toeneem oor die beskikbaarheid van MIV-behandeling.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê daar is twee praktiese stappe om swart ekonomiese bemagtiging se verkrygingspremies te verminder wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, nou kan doen om ‘n BTW-verhoging te vermy. Hy kan SEB-voorkeurpremies deursigtig maak en premies in openbare verkryging tot nul-rand verminder. Gabriel Crouse van die instituut sê die vermorsing weens korrupsie wat met die premie-verkrygingstelsel verbind word, beloop jaarliks sowat 133-miljard-rand:
# Die GOOD-party sê hy sal vandag se mosie van wantroue in die Kaapstadse speaker, Felicity Purchase steun. ‘n Veelpartykoukus gelei deur die ANC beskuldig Purchase van versuim om die integriteit van die raad se prosesse te handhaaf te midde van bewerings teen die burgemeesterskomiteelede JP Smith en Grant Twigg. Jonathan Cupido van GOOD sê Purchase het besluit op ‘n ope stemproses, wat hulle ten sterkste teenstaan.
# Tennis: Die Spanjaard Paula Badosa kan weer lank afwesig wees uit die spel weens ‘n laerug-besering wat sy tydens die Miami Ope in Amerika opgedoen het. Die voormalige wêreld-nommer-twee het uit die top-50 gesak weens ‘n reeks beserings, insluitende ‘n chroniese laerugprobleem wat haar verlede jaar laat oorweeg het om uit te tree. Die 27-jarige sê sy het reeds onttrek aan die Charleston Ope wat Maandag begin. Sy het geen tydlyn gegee vir haar verwagte terugkeer na die toer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-484-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-35-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….