Nuus 13:00
BULLETIN 26 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en nege ander lande gaan saam met Indië deelneem aan ‘n vloot-oefening in die Indiese Oseaan
# ActionSA waarsku teen politieke inmenging by teenkorrupsie-pogings
# En sokker: Platini sê sy eer is herstel nadat hy onskuldig bevind is aan korrupsie
# Indië en tien Afrika-lande, insluitend Suid-Afrika, sal volgende maand hul eerste gesamentlike vlootoefening uitvoer langs die Tanzaniese kus. Die oefening van ses dae sal behels dat Suid-Afrika, Indië, Tanzanië, die Comores, Djiboeti, Eritreë, Kenia, Madagaskar, Mauritius, Mosambiek en die Seychelle fokus op maritieme veiligheid, pogings teen seerowery en reddingsoperasies. Hulle sal deelneem aan verskillende oefeninge soos soek en beslaglegging, helikopter en toesig. Indië se patrollievaartuig, INS Sunayna, sal ook gesamentlike patrollies uitvoer, wat die sekerheidsamewerking in die Indiese Oseaan versterk.
# ActionSA het kommer uitgespreek oor moontlike politieke inmenging by die nuwe Grensbestuur- en Immigrasie-teenkorrupsieforum. Die party sê korrupsie in die Departement van Binnelandse Sake het grensveiligheid verswak, en waarsku sonder streng toepassing sal die immigrasiestelsel en nasionale veiligheid aanhoudend benadeel word. Matthew George van ActionSA vra onafhanklike teenkorrupsie-instellings, kunsmatige intelligensie-gedrewe veiligheidsmaatreëls en gespesialiseerde howe om vinnige vervolging te verseker:
# FNB voorspel ‘n aansienlike toename in werksgeleenthede te midde van geleidelike verbeterings in die bedryfsomgewing. Die totale aantal werkende mense in Suid-Afrika het van Desember 2023 tot Desember verlede jaar met 91-duisend gedaal. Volgens Statistiek Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingstatistiek het voltydse werksgeleenthede met 26-duisend afgeneem en deeltydse werksgeleenthede met 65-duisend. FNB se senior ekonoom, Koketso Mano, beklemtoon belegging in infrastruktuur om langtermyn-indiensneming te bevorder:
# Sokker: Die voormalige Franse held Michel Platini sê sy eer is herstel nadat ‘n Switsere hof hom vrygespreek het aan bedrog. Die 69-jarige en Fifa se voormalige president, die 89-jarige Sepp Blatter, is aangekla oor ‘n raadgewersfooi van 41-miljoen-rand wat Blatter in 2011 aan hom betaal het. Fifa het albei in 2015 verban. Platini sê hy het duisende boodskappe van ondersteuning ontvang voor gister se appèlverhoor. Sy prokureurs sê Platini het nog altyd beklemtoon dit was ‘n agterstallige betaling, wat nou twee keer in die hof bevestig is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-890-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-20-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Passasiers op pad na China aan boord van ‘n United Airlines-vlug moes onverwags na die VSA terugkeer nadat die vlieënier sy paspoort by die huis vergeet het. Die vlug van Los Angeles na Shanghai was reeds oor die Stille Oseaan toe dit moes terugdraai Amerika toe. Die Boeing 787 met 270 mense aan boord het in San Francisco geland waar ‘n ander span oorgeneem het. Die vergete paspoort het veroorsaak dat passasiers ses uur later as beplan in China aangekom het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….