Nuus 13:00
BULLETIN 22 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DBV vra regeringsoptrede te midde van ‘n dreigende voëlgriep-ramp
# Trump herroep Biden, Harris en Clinton se sekerheidsklaring in ‘n verreikende opdrag
# En rugby: Daar is agt Springbokke in die Stormers se opdrafspan teen Scarlets
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings waarsku Suid-Afrika staan op die rand van ‘n voëlgriep-ramp weens die regering se gebrek aan optrede. Senior inspekteur Nazareth Appalsamy sê nog ‘n uitbreking kan die pluimveebedryf verwoes en wilde voëls bedreig. Hy vra die minister van Landbou, John Steenhuisen, om die inentingsbeleid te hersien. Appalsamy beklemtoon sonder dringende ingryping is ‘n uitbreking onvermydelik, met rampspoedige gevolge vir die ekonomie en diere-welstand:
# Twee vermeende dwelmsmouse is op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng aangekeer nadat hulle uit São Paulo in Brasilië geland het. ‘n Vier-en-twintigjarige Brasiliaanse man en ‘n 51-jarige Suid-Afrikaanse vrou is voorgekeer met kokaïne van 1,2-miljoen-rand. Deel daarvan is as kapsules ingesluk. Polisie-woordvoerder Amanda van Wyk sê daar is ook in ‘n afsonderlike besending beslag gelê op heroïen van 200-duisend-rand:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die sekerheidsklaring herroep van sy voorganger, Joe Biden, die voormalige visepresident, Kamala Harris, en verskeie voormalige amptenare, onder wie oud-ministers Hillary Clinton en Antony Blinken. Die uitvoerende bevel teiken politieke teenstanders wat gewoonlik hulle klaring as ‘n teken van welwillenheid behou. Trump, wat steeds beweer 2020 se verkiesing is gesteel, het agentskappe opdrag gegee om toegang te versper tot geklassifiseerde materiaal en regeringsgeriewe. Kritici beskou dit as politieke weerwraak, terwyl Trump dit verdedig as ‘n nasionale sekerheidstap.
# Rugby: Die losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu is een van agt Springbokke in die Stormers se opdraf-vyftiental vir vanmiddag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Scarlets in Wallis. Die ander Bokke is Herschell Jantjies, Frans Malherbe, Joseph Dweba, Damian Willemse, Evan Roos, Deon Fourie en die kaptein, Salmaan Moerat. Die Stormers is tans twaalfde op die punteleer nadat hulle sewe keer verloor het in hulle vorige twaalf kragmetings. Scarlets is tiende. Die wedstryd op Parc y Scarlets skop vyf-uur af.
# En ten slotte: ‘n Man wat beskryf word as Brittanje se waardevolste spioen binne Russiese intelligensie-agentskappe is in Surrey oorlede op 86. Oleg Gordievsky was ‘n kolonel in die KGB toe hy inligting deurgegee het aan Brittanje se sekerheids- en intelligensie-agentskappe, M-I-5 en M-I-6. Hy was onder polisiebeskerming nadat Moskou in 1985 agterdogtig geraak het, maar is na Finland gesmokkel voordat hy in hegtenis geneem kon word. Koningin Elizabeth het Gordievsky in 2007 vereer met die toekenning van Companion of the Most Distinguished Order of St Michael and St George.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….