Nuus 13:00
BULLETIN 20 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Buitelandse beleggers verkoop Suid-Afrikaanse effekte te midde van spanning met Amerika
# Die Finansiële Taakmag ondersoek Suid-Afrika se vordering voor sy moontlike verwydering van die gryslys
# En die erge droogte in Namibië is op baie plekke gebreek
# Buitelandse beleggers, insluitend JPMorgan, Wells Fargo en Franklin Resources, het hierdie maand Suid-Afrikaanse effekte ter waarde van 16,1-miljard-rand verkoop. Hierdie stap volg nadat kommer ontstaan het oor verslegtende betrekkinge met Amerika en die moontlike verlies van voorkeurhandelstatus ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die verkope het vrese vir sanksies tot gevolg gehad, veral ná bespiegelings dat die spanning tot ekonomiese strafmaatreëls kan lei. Binnelandse beleggers, insluitend Sanlam en Standard Bank, het egter ingetree, en sekere buitelandse beleggers, soos Allianz en BlackRock, het hul effekte vermeerder.
# Die Finansiële Aksietaakmag beplan om in Junie perseelbesoeke in Suid-Afrika te onderneem om die vordering te beoordeel met teen-geldwassery en die voorkoming van terreurfinansiering. Die Nasionale Tesourie sê die land het 20 van die 22 aksie-items hanteer of grootliks hanteer in sy aksieplan om oorweeg te word vir verwydering van die gryslys. Tydens die perseelbesoeke moet die regering die volgehoue toename in ondersoeke en vervolgings van ernstige en ingewikkelde geldwassery en terreur-finansieringsbedrywighede bewys. Indien dit suksesvol is, kan Suid-Afrika in Oktober van die gryslys verwyder word.
# Die DA sê hy het die parlementêre komitee oor Sekerheid en Justisie gevra om die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, te ontbied om dringend vrae te beantwoord oor dwelmsmokkelary in korrektiewe geriewe. Byna een-duisend-500-gram tik is die afgelope 12 maande net in Wes-Kaapse tronke in beslag geneem, saam met 14 glas-tikpype. Nicholas Gotsell van die DA sê korrupte tronkbeamptes maak die dwelm-swartmark moontlik:
# Die ernstige droogte in Namibië is in die meeste gebiede gebreek ná onlangse goeie reën. Die vlak van die Hardap-dam naby Mariental in die suide het hierdie week tot 27,6-persent verbeter nadat dit aan die begin van die jaar amper leeg was op 5,5-persent. Die vlak van die Naute-dam naby Keetmanshoop het van 44-persent verlede week tot meer as 50-persent verbeter. Die Swakoppoort-, die Von Bach- en die Omatako-dam het vlakke van 36-persent bereik in vergelyking met minder as tien-persent in Desember.
# Nou sportnuus: Die derde weergawe van die Kaapstadse Driekamp vind Sondag teen die Atlantiese kus plaas. Deelnemers aan die uitdagende sport sal in Grangerbaai swem, van die Grand Beach Café tot in Bantrybaai fietsry en om die Groenpuntse park draf. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê talle strate sal gesluit wees in Groenpunt, Grangerbaai, Mouillepunt en Seepunt:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-93-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-44-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent – 70-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….