Nuus 13:00
BULLETIN 19 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verbruikersinflasie bly bestendig op 3,2-persent in Februarie
# VF Plus in Gauteng sê niks gaan verbeter sonder buitelandse belegging en beleidshervorming nie
# Nederlandse koning beklemtoon menseregte gedurende besoek aan Kenia
# Statistieke Suid-Afrika sê jaarlikse verbruikersinflasie was verlede maand 3,2-persent en onveranderd sedert Januarie. Die jaarlikse koers vir voedsel en nie-alkoholiese drank het in Februarie tot ‘n viermaande-hoogtepunt versnel. Mieliemeel-inflasie het verlede maand ‘n hoogtepunt van 17-maande bereik en stampmielies ‘n hoogtepunt van 19-maande. Lekau Ranoto van Statistieke SA sê goedere-inflasie het effens toegeneem tot 2,5-persent, terwyl dienste-inflasie tot 3,8-persent gedaal het:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die doel van die provinsiale begroting, naamlik om ekonomiese groei te ontsluit, sal ‘n reusepoging van die regering verg om aansienlike buitelandse beleggings te lok. Die LUR vir Finansies, Lebogang Maile, het ʼn begroting van 171-miljard-rand vir die 2025/’26-boekjaar ingedien. Anton Alberts van die VF Plus sê ʼn voorvereiste om buitelandse beleggings te lok, is ʼn beleggersvriendelike omgewing wat net moontlik is as die regering omvattende beleidsveranderings instel:
# Koning Willem-Alexander van Nederland het menseregte bespreek gedurende sy staatsbesoek aan Kenia te midde van ‘n toenemende aantal bewerings van mensemishandeling. Die besoek vind plaas al het meer as 20-duisend Keniane ‘n versoekskrif onderteken dat dit afgestel moet word te midde van inhegtenisnemings van kritici en staatsverwante ontvoerings. Die koning het in Nairobi die belangrikheid van vrye uitdrukking en staatsbestuur beklemtoon. Die koning, wat vereer is met ‘n kanonsaluut van 21 skote, het beklemtoon dat Kenia en Nederland moet praat oor staatsbestuur en aanspreeklikheid.
# Tennis: Die Australiër Nick Kyrgios sê die regsgeding wat die Professionele Tennisspelersvereniging teen die beheerliggame aanhangig gemaak het, is ʼn belangrike oomblik in die sport. Dit handel oor praktyke teen mededinging en ʼn gebrek aan spelerswelstand. Kyrgios is een van 12 huidige en gewese spelers wat saam met die vereniging as klaers genoem word. Hy het aan Sky Sports gesê dis tyd vir verandering en dat spelers gehoor word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-518-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-28-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-65-sent per vat.
# En laastens, die Hollywood-akteur en Grammy-bekroonde musikant, Will Smith, gaan die eerste keer in dekades ‘n wêreldtoer onderneem. Based on a True Story Summer Tour begin op 13 Julie in Hamburg, Duitsland, en gaan ook aandoen in Londen en Monte Carlo voor die laaste optrede in Parys op 2 September. Die toer val saam met Smith se eerste vollengte rap-album in 20 jaar wat volgende week uitgereik word. Die stemme van Teyana Taylor, Jac Ross en DJ Jaxzzy Jeff kan op die Based on a True Story-album gehoor word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….