Nuus 13:00
BULLETIN 26 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Justisie sal die media vandag inlig oor die uitstel van die Madlanga-kommissie
# Die Wes-Kaapse regering veroordeel die dodelike taxigeweld
# En 18 fietse van ‘n Nederlandse span word gesteel tydens ‘n tydren in Spanje
# Die Ministerie van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling gaan binnekort die media inlig oor die uitstel van die verhore van die Madlanga-kommissie. Die ondersoek na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel sou op die eerste van volgende maand begin het, maar die department het nog nie die nodige infrastruktuur bekom nie. ‘n Nuwe aanvangsdatum sal aangekondig word wanneer alles gereed is.
# Die Wes-Kaapse regering veroordeel die onlangse dodelike geweld in die taxibedryf. Nege mense, ses taxibestuurders en drie passasiers, is gister geskiet in afsonderlike voorvalle in Philippi-Oos en Khayelitsha. Drie van hulle is dood. Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, sê pendelaars, operateurs en die breër publiek se veiligheid is nie onderhandelbaar nie. Hy voeg by die provinsiale regering sal dit nie duld as vredespogings in die taxibedryf ineenstort nie:
# Die Kaapse Forum is diep bekommerd oor ‘n video waarin ‘n jong meisie ‘n rassistiese opmerking kwytraak teenoor mede-leerders by die Hoërskool Knysna in die Suid-Kaap. Die voorsitter, Heindrich Wyngaard, veroordeel die daad, maar prys die deursigtige reaksie van die skoolhoof, Mark Mosdell. Die forum sal kulturele sensitiwiteit-slypskole vir senior leerders aanbied om te beklemtoon hoe belangrik dit is om rassevooroordeel aan te pak, die bevordering van maatskaplike samehorigheid uit te lig en sal ook die versekering bied dat voorvalle soos hierdie met erns hanteer word, veral voor Erfenismaandvierings.
# Die landbou-organisasie TLU SA is bekommerd oor die staat se gebrekkige vermoë om die bek-en-klouseer-uitbreking doeltreffend te beheer. Die siekte is in minstens vier provinsies aangemeld. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê die beweging van lewende hawe sonder behoorlike beheermaatreëls vererger die situasie terwyl ekonomiese druk op boere toeneem. Hy sê die huidige regulatoriese raamwerk verhoed die privaat sektor om betrokke te raak by die vervaardiging en verspreiding van entstowwe:
# Fietsry: Agtien fietse ter waarde van sowat vyf-miljoen-rand is uit ‘n vragmotor gesteel wat behoort aan die Nederlandse span Visma-Lease a Bike, wat tans aan die La Vuelta a España-tydren in Spanje deelneem. ‘n Woordvoerder sê die werktuigkundiges het daarin geslaag om die toerusting te bekom sodat die span vandag in die derde skof kan wegspring. Die diefstal volg kort op die hakke van die span se voorloper, Jonas Vingegaard, se oorwinning en verowering van die rooi trui in gister se tweede skof in Limone Piemonte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-371-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….