Nuus 13:00
BULLETIN 18 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die verhoging in die ongeskiktheidstoelaag maak nie voorsiening vir die BTW-verhoging nie
# Die vraag na elektrisiteit neem af terwyl sonkraginstallasies toeneem
# En krieket: Nieu-Seeland klop Pakistan met vyf paaltjies in die tweede T20
# ActionSA sê die voorgestelde verhoging van 130-rand per maand aan die meer as 3,3-miljoen mense met gestremdhede in Suid-Afrika, is nie genoeg om hul daaglikse behoeftes te dek nie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het aangekondig die toelaag styg op 1 April. Die voorgestelde BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte vanjaar en ook volgende jaar vererger egter die finansiële nood. ActionSA sê weens die finansiële uitdagings waarmee gestremdes in Suid-Afrika worstel, is hulle afhanklik van ander om te oorleef en word van hul menswaardigheid beroof.
# President Cyril Ramaphosa het die Wet op Klimaatsverandering onderteken wat gister van krag geword het. Nie alle wetsbepalings het egter in werking getree nie omdat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing besig is met die ontwikkeling van ‘n stel regulasies wat die instelling moontlik sal maak. Minister Dion George sê die wet sal die ontwikkeling van doeltreffende klimaatsveranderingsbeleid en die langtermyn-oorgang na ‘n lae-koolstof-ekonomie en -samelewing moontlik maak. Hy sê dit het ook ten doel om die grondslag te lê vir ‘n veerkragtige groen ekonomie.
# Suid-Afrika se aanvraag vir elektrisiteit het in 2024 aanhou daal as gevolg van die vinnige groei in privaat sonkraginstallasies. ‘n Nuwe verslag deur die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad dui aan dat die spitsaanvraag met een-persent gedaal het na 33,5-gigawatt, terwyl algehele energie-aanvraag met drie-persent gedaal het. Teen September verlede jaar was meer as ses-gigawatt privaat sonkrag aangebring, wat die afhanklikheid van Eskom verlaag het. Die verslag dui ook aan dat beurtkrag-ure skerp gedaal het, terwyl diesel-kragopwekking met 48-persent afgeneem het. Intussen het elektrisiteitstariewe met 190-persent oor die laaste dekade toegeneem wat inflasie en hernubare energiekostes oorskry.
# Krieket: Nieu-Seeland het ‘n voorsprong van 2-0 oor Pakistan in hulle reeks van vyf T20s nadat hulle ‘n oorwinning met vyf paaltjies in Dunedin behaal het. Die besoekers is tot 135 vir nege beperk nadat die wedstryd tot 15 boulbeurte per span verkort is. Tim Seifert en Finn Allen het die Swartpette se beurt geopen en 66 lopies van 28 balle gemoker. Hulle het die teiken gehaal met 11 balle oor. Allen het dit as ‘n kliniese vertoning beskryf:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-108-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-24-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-54-sent per vat.
# En laastens, ‘n grensverskuiwende studie is aan die gang om vas te stel of rooibos die nadelige uitwerking van blootstelling aan petrochemiese stowwe op petroljoggies kan bekamp. Wetenskaplikes van die Nasionale Instituut vir Beroepsgesondheid het die idee ontwikkel na aanleiding van die bedryf se aansienlike beroepsgevare. Die instituut se epidemioloog, Kerry Wilson, sê petroljoggies in Suid-Afrika werk lang ure by vulstasies en asem dikwels gevaarlike petrochemiese dampe in:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….