Nuus 13:00
BULLETIN 16 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika en Amerika se verhouding is steeds strategies
# ‘n Multi-dissiplinêre span red ‘n ontvoerde Portugese sakeman in Johannesburg
# En motorsport: Norris klop Verstappen vir ‘n oorwinning in ‘n dramatiese Australiese Grand Prix-aanvangswedren
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Ronald Lamola sê die regering glo die verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika is steeds strategies. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake Marco Rubio het Suid-Afrika se ambassadeur Ebrahim Rasool tot persona non grata verklaar na sy toespraak voor die Mapungubwe-instituut oor president Donald Trump en die Make America Great Again-beweging, wat hy heerssugtig en rassisties genoem het. Rasool is 72 uur gegee om die land te verlaat. Lamola sê die regering sal skakeling met die Amerikaanse administrasie voortsit:
Intussen vra die Suid-Afrikaanse regering om beslissend op te tree oor die uitsetting van Suid-Afrika se ambassadeur Ebrahim Rasool, deur die Amerikaanse ambassadeur te ontbied om rekening te gee van die vyandige optrede. Die woordvoerder van Saftu, Newton Masuku, sê die regering moet Suid-Afrika se handels- en diplomatieke betrekkinge met die VSA heroorweeg, veral in die lig van AGOA, asook die versterking van vennootskappe met BRICS en ander lande in die suidelike halfrond om Westerse imperialisme teen te werk:
In sy reaksie sê die groep Activists and Citizen Forum die enigste mense wat die uitsetting vier van Rasool, is die regsgesinde groepe AfriForum en Solidariteit. Die woordvoerder van die forum Dennis Bloem sê hulle siening is dat die groepe se skadelike besoek aan president Donald Trump se administrasie om leuens oor Suid-Afrika te versprei, vrugte gedra het. Bloem sê hulle is ook nie verras oor wat hulle die roekelose en sinnelose optrede deur die Trump-administrasie noem nie:
# ‘n Multi-dissiplinêre span van die polisie het suksesvol ‘n ontvoerde Portugese sakeman in Westdene, Johannesburg, gered. Een verdagte, ‘n 26-jarige Zimbabwiese burger, is in hegtenis geneem. Die polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die sakeman is Dinsdag ontvoer, kort nadat hy ‘n werknemer in Rewlatch afgelaai het. Sy sê ‘n losprys is later vir sy vrylating geëis:
# En motorsport: Lando Norris, wat voor weggespring het, moes veg vir ‘n oorwinning in die openingswedren van die seisoen by die Australiese Grand Prix, met afwisselende weer, talle botsings en stortreën aan die einde wat gesorg het vir groot drama. Norris was vroeg in beheer voor sy McLaren-spanmaat Oscar Piastri en Max Verstappen van Red Bull op ‘n sopnat baan. Maar die stortreën aan die einde het die baan nog gladder gemaak en vertragings veroorsaak met bande-omruilings. Die verdedigende kampioen Verstappen was tweede, met George Russell derde en George Albon vierde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….