Nuus 13:00
BULLETIN 14 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering word gevra om die koste van swart ekonomiese bemagtiging bekend te maak
# Opruimings is aan die gang ná verwoestende storms in KwaZulu-Natal
# En die Noord-Kaapse polisie word verkla oor ‘n opdrag dat net Engels gebruik mag word
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê hy waarsku al lankal oor die rampspoedige gevolge van ras-gegronde beleide en die inherente uitsluiting wat groei strem. JP Morgan het Suid-Afrikaanse aandele Dinsdag afgradeer en verwys na die uitwerking van beleid soos swart ekonomiese bemagtiging op groei. Makone Maja van die instituut sê hulle het sleutel-kabinetslede gevra om dringend die koste van die beperkings van swart ekonomiese bemagtiging op betrekkinge en beleggings te verduidelik:
# Die gewese minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula is onder skoot weens haar beweerde toestaan van permanente verblyfreg aan Atul Gupta se neef, Varun Gupta, en sy vrou, Vega. Die Departement van Binnelandse Sake beweer Mapisa-Nqakula het persoonlik die aansoek hanteer, waarvoor geen regsredes verskaf is nie. News24 berig die departement wil die besluit in die hof omkeer omdat dit ‘n oortreding van die Immigrasiewet is. Hy het ook kommer uitgespreek oor vermiste immigrasielêers en moontlike bedrog in verband met die Guptas se permanente verblyf en gevolglike naturalisasie.
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal het begin met omvattende opruimings ná gister se hewige weerstoestande in die provinsie. Die stortreën het tot ‘n vrou se dood gelei toe haar voertuig van ‘n brug in Pinetown meegesleur is. Die departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê soek-en-reddingspanne het vroeg vanoggend die vrou se liggaam en die voertuig gevind:
# AfriForum het ‘n klagte by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad ingedien oor die Noord-Kaapse polisie se opdrag dat verklarings en kommunikasie slegs in Engels moet wees. Alana Bailey van AfriForum sê dis ‘n skending van taalregte en waarsku die beleid kan verklarings verdraai en regverdige ondersoeke belemmer. Sy bepleit meertalige dienste of professionele vertalers vir die polisie se bedrywighede:
# Krieket: Die Engelse kolwer, Harry Brook, is vir twee seisoene uit die Indiese Premierliga geskors nadat hy weer aan die winsgewende T20-kompetisie onttrek het. Die 26-jarige het verlede jaar se weergawe vir Delhi Capitals misgeloop na sy ouma se dood. Hy het vroeër die maand die span in kennis gestel dat hy tyd nodig het om te herstel ná die besigste tyd van sy loopbaan. Die IPL sê die skorsing is deel van ‘n beleid waaroor elke speler ingelig word voordat hy vir die jaarlikse veiling registreer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar,19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-754-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-995-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….