Nuus 13:00
BULLETIN 12 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Absa se tussentydse uitvoerende hoof waarsku Suid-Afrika om spanning met Amerika te verlig
# Gauteng se vertraagde begroting lok verontwaardiging uit
# En Pam Golding-eiendomme word deur ‘n kuberkraker geteiken
# Absa se tussentydse uitvoerende hoof, Charles Russon, sê die regering moet alles in sy vermoë doen om die spanning met Amerika te verlig. President Donald Trump het ‘n uitvoerende bevel onderteken om hulpverlening aan Suid-Afrika op te skort weens die land se onteieningsbeleid en die behandeling van Afrikaners. Die Amerikaanse bankreus JP Morgan het Suid-Afrika se aandele afgradeer weens onsekerheid oor diplomatieke bande en ekonomiese hervorming. Russon sê markte en die beleggingsgemeenskap hou nie van onsekerheid nie. Hy erken die herstel van verhoudings sal nie maklik wees nie.
# Die DA kritiseer die Gautengse wetgewer vir die goedkeuring van sy aangepaste begroting vier maande laat en met die meeste van die geld reeds bestee. Ruhan Robinson van die DA noem dit ‘n “bestee-eers-beplan-later”-benadering onder die ANC-geleide koalisie. Robinson spreek sy kommer uit oor onder meer die 4,3-miljard-rand se oorbesteding in gesondheid en die 3,8-miljard-rand wat verkwis is met die mislukte e-tolstelsel. Hy sê die aanpassings is slegs wetlike formaliteite eeder as behoorlike finansiële oorsig.
# Pam Golding-eiendomme het bevestig ‘n kubervoorval het gelei tot ongemagtigde toegang tot kliëntedata op sy Klanteverhoudingsbestuurstelsel. Die eiendomsgroep sê die kuberinbraak het verlede week gebeur en het nie finansiële of bankbesonderhede in gevaar gestel nie aangesein sekerheidsmaatreëls dadelik getref en die voorval aan die owerhede gerapporteer is. Kliënte is in kennis gestel en aangeraai om bedag te wees op moontlike bedrog. Onafhanklike kubersekerheidspesialiste is aangestel om sekerheidsprotokolle te ondersoek en te versterk om toekomstige voorvalle te voorkom.
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings het die drastiese kostebesparingsmaatreëls van die Departement van Korrektiewe Dienste bevestig. Dit het ‘n regstreekse invloed op die voer van diere in die land se 21 landbou-korrektiewe sentrums. Die DBV se woordvoerder, Jacques Peacock, sê die diere sluit in varke, melkkoeie, pluimvee, perde in die berede eenheid en honde in die honde-eenheid. Hy sê hulle ondervind nou kritieke voedseltekorte:
# Nou sportnuus: Die DA sê hy is gekant teen Krieket Suid-Afrika se onbuigsame toepassing van rassekwotas wat veroorsaak het dat die Warriors van hul kans op ‘n uitspeelwedstryd ontneem is. Die span is gediskwalifiseer uit die Eendagbeker se uitspeelronde omdat hulle nie aan KSA se kwotavereistes voldoen het nie. Hulle het verlede maand versuim om drie swart spelers in ʼn wedstryd te hê en die owerhede daaroor in te lig. Liam Jacobs van die DA sê ware hervorming is om geleenthede te bied, ongeag ras:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-297-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-919-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….