Nuus 13:00
BULLETIN 11 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Busongeluk in Kemptonpark eis twaalf lewens
# Rugby: Ierse spelers word nie uitgewys oor Dupont se ernstige kniebesering nie
# En windplase bedreig Suid-Afrika se voëllewe
# Twaalf mense is vanoggend dood toe ‘n bus omgeslaan het op die R21-noord net voor die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark, Gauteng. Ekurhuleni se Ramp- en Noodbestuursdiens het bevestig die bus het herhaaldelik gerol. Die nooddiens se woordvoerder, William Ntladi, sê die slagoffers is nege vroue en drie mans:
# Die DA in Gauteng sê die provinsiale Gesondheidsdepartement het radikale opknappings nodig om hospitale soos Helen Joseph reg te ruk. Die meeste van die 37 openbare hospitale in Gauteng worstel steeds met personeeltekorte, swak bestuur en verbrokkelende infrastruktuur. Die party sê die bevriesing van aanstellings te midde van ‘n begrotingstekort van 7,3-miljard-rand beteken 30-persent van verpleegposte is vakant. DA-woordvoerder Jack Bloom dring aan dat premier Panyaza Lesufi die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, en departementshoof Lesiba Malotana afdank:
# Die Stad Tshwane se Nooddiensdepartement waarsku gemeenskappe om waaksaam te bly aangesien gure weer vandag verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms oor die grootste deel van Gauteng. ʼn Woordvoerder van die nooddiens, Lindsay Mnguni, sê die moontlikheid van reën in Tshwane is 30- tot 60-persent:
# Rugby: Die Sesnasies-organiseerders weier om te voldoen aan Frankryk se eis dat twee Ierse spelers voor ‘n dissiplinêre komitee gedaag word oor hulle optrede in ‘n losgemaal wat die Franse kaptein, Antoine Dupont, vir verskeie maande op die kantlyn gelaat het. Hy het ‘n ernstige kniebesering opgedoen toe Tadhg Beirne en Andrew Porter op sy been beland het tydens Frankryk se oorwinning van 42-27 in Dublin. Frankryk speel die naweek in Parys teen Skotland in die laaste ronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-287-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-909-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: In die agt jaar tot einde 2023 is twee-duisend-444 dooie voëls van meer as 200 spesies op 33 windplase in Suid-Afrika aangemeld. Dit is volgens ʼn verslag van BirdLife South Africa. Die land het tans een-duisend-421 turbines wat sowat drie-duisend-490-megawatt krag opwek en dit sal na verwagting teen 2030 toeneem tot 17-duisend-700 megawatt. BirdLife sê volgens wet moet alle windplase omgewingsbestuursprogramme hê wat insluit dat voëlvrektes wat deur turbines veroorsaak word, gemonitor word. Hy voeg by dat baie windplase dit egter nie doen nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….