Nuus 13:00
BULLETIN 10 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier leerders sterf in ‘n ongeluk by Daveyton in Gauteng
# Die Vereniging vir Staatsamptenare vra antwoorde oor die moord op ‘n pasiënt in ‘n hospitaal in Limpopo
# En tennis: Medvedev, Tsitsipas en Swiatek dring deur na die laaste 16 in Indian Wells
# Vier leerders is dood en vyf is beseer toe die voertuig wat hulle vervoer het vanoggend met ‘n bakkie gebots het buite Daveyton in Ekurhuleni, Gauteng. ‘n Woordvoerder van die stad se ramp- en noodbestuurdienste, William Ntladi, sê die hele snelweg is vir verkeer gesluit aangesien reddingspanne steeds op die toneel is. Hy sê die slagoffers is almal leerders van verskillende ouderdomme en skole:
# Die Vereniging van Staatsamptenare betreur die dood van ‘n geestesgesondheidspasiënt in die Philadelphia-hospitaal in Limpopo na ‘n aanval deur ‘n ander pasiënt. Die aanvaller het personeel en die slagoffer aangeval. Sekerheidspersoneel en die polisie is ontbied, maar die aanvaller is eers oorval nadat hy in die been geskiet is. Die vakbond se waarnemende provinsiale bestuurder, Phillip Maponya, vra die LUR vir Gesondheid, Dieketseng Mashego, moet verduidelik hoekom die pasiënt nie na ‘n geestesgesondheids-inrigting oorgeplaas is nie:
# President Cyril Ramaphosa sê landbou is een van die belangrikste sektore in die ekonomie, aangesien die produkte en dienste wat dwarsdeur die waardeketting geproduseer word, die land se voedselsekerheid onderskraag. Volgens data van Agbiz het Suid-Afrika se landbou-uitvoere verlede jaar meer as 250-miljard-rand bereik. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief hervorming bly ‘n uitdaging in landbou, met swart boere wat tans omtrent tien-persent van kommersiële landbouprodukte produseer. Hy sê ook dat die land ‘n landbousektor moet hê wat verteenwoordigend en inklusief is.
# Tennis: Verlede jaar se naaswenner, Daniil Medvedev, is deur na die ronde van 16 van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika. Die Rus het deurgedring nadat sy plaaslike teenstander, Alex Michelsen, weens voedselvergiftiging moes handdoek ingooi na slegs twee potte. Die agste-gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland het die Italianer Matteo Berrettini geklop, terwyl die Japannese kwalifiseerder Yosuke Watanuki met die Amerikaner Frances Tiafoe afgereken het. In die vroueafdeling het die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, Dayana Yastremska van Oekraïne verslaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-911-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-910-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-25-sent per vat.
# En laastens: Die sewende aanbieding van een van Suid-Afrika se voorste fliekgeleenthede, die Johannesburgse rolprentfees, vind van môre tot Sondag in Sandton plaas. Vanjaar se geleentheid met die tema, Die goue draad – deur stories aaneengeskakel, erken dat stories van die waardevolste skatte is, wat gedeelde menslikheid en kollektiewe wysheid in die kollig plaas. Die fees se uitvoerende direkteur, Timothy Mangwedi, het aan Newzroom Afrika gesê meer as 100 prente sal vertoon word, insluitend 28 Afrika- en 12 wêreld-premières:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….