Nuus 13:00
BULLETIN 8 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsprodukte-owerheid waarsku dis onwettig om ongoedgekeurde middels in die mark te hê
# Die Polisie-unie maan die tekort aan speurders veroorsaak meer onopgeloste sake
# En rugby: Leeus-afrigter vra sy span om skerp te bly teen die Haaie in hulle VRK-botsing
# Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Regulerende Owerheid waarsku dat dit onwettig is om enige middel op die mark te hê wat nie geëvalueer is nie. Die polisie het dié week beslag gelê op geskeduleerde medisyne, steroïde en ander prestasie-verbeterende middels ter waarde van 15-miljoen-rand by ‘n selfbergingsgerief in die noorde van Pretoria. Die woordvoerder van die owerheid Mokgadi Fafudi beklemtoon dat diegene wat die stowwe hanteer ongeoorloof optree omdat die middels onwettig en ongoedgekeur is:
# Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie is bekommerd oor die tekort aan speurders wat veroorsaak dat ‘n groot aantal sake onopgelos bly. Die minister van Polisie Senzo Mchunu het bevestig Suid-Afrika sit met ‘n ernstige krisis oor speurders, met 1,9-miljoen saakdossiere wat uitstaande is. Die woordvoerder van Sapu Lesiba Thobakgale sê die agterstand word ook toegeskyrf aan oorweldigende sakeladings en salaristeenstrydighede. Hy vra meer speurders moet opgelei en aangestel word:
# Die president van Amerika Donald Trump het aan verslaggewers in die Withuis gesê dit is moeiliker om in vredespogings met Oekraïne saam te werk as met Rusland. ‘n Paar uur vroeër het Trump gesê hy oorweeg grootskaalse saksies en tariewe teen Rusland totdat ‘n skietstilstand bereik is. Intussen het die VSA tydelik Oekraïne se toegang tot sommige satellietbeelde opgeskort nadat militêre bystand aan die land reeds beëindig is. Dit gebeur presies ‘n week na ‘n buitengewone Withuis-botsing waarin Trump president Volodymyr Zelensky uitgekryt het vir ‘n “gebrek aan respek” vir Amerika.
# Rugby: Die Leeus wil vandag bestendig presteer in hulle Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting met die Haaie op Kingspark in Durban. Ivan van Rooyen se span kon in die verlede nie opvolg op goeie vertonings nie en is die enigste Suid-Afrikaanse span wat nog nie die top-agt van die VRK bereik het nie. Van Rooyen sê sy spelers sal skerp moet bly en by hulle verdedigingstrategie moet hou. Die Leeus is negende op die punteleer met 28 punte na elf wedstryde.
# Motorsport: ‘n Cadillac-inskrywing deur General Motors gesteun sal volgende jaar Formule Een se 11de span word nadat formele goedkeuring verkry is van die kommersiële regte-eienaars en die beherende FIA. Die F1-uitvoerende hoof Stefano Domenicali sê die voorneme van General Motors om ‘n Cadillac-span na Formule Een te bring is ‘n belangrike en positiewe bewys van die evolusie van die sport. Die president van die FIA Mohammed Ben Sulayem sê die uitbreiding na elf spanne is ‘n mylpaal en die nuwe span sal toekomstige mededingers en aanhangers inspireer.
# En Internasionale Vrouedag word vandag gevier met die klem op gelyke regte en bemagtiging vir alle vroue en meisies. Die beroep dié jaar is vir aksie om gelyke geleenthede te ontsluit en jong vroue en meisies te bemagtig as agente vir verandering. Dit vier ook vroue se prestasies, bevorder bewustheid oor diskriminasie en dien as ‘n wekroep vir aksie om geslagsgelykheid te verseker. Die herdenking van ook saam met die 30ste jaar van die Beijing-verklaring en Platform vir Aksie om die wêreld ‘n gelyke en beter plek vir almal te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….