Nuus 13:00
BULLETIN 7 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, gaan Suid-Afrika op 10 April besoek
# Brittanje befonds 6,4-miljoen-rand vir ‘n studie oor elektrisiteitsmark-hervorming in Suid-Afrika
# En, die DA sê OPOD se verslag toon ‘n kommerwekkende styging in polisiewangedragsake in die Vrystaat
# Die Presidensie het bevestig die president van Oekraïne, Volodimir Zelensky, besoek Suid-Afrika op 10 April. Meer besonderhede volg binnekort.
# Die Verenigde Koninkryk het 6,4-miljoen-rand bewillig vir ‘n studie deur die Energieraad van Suid-Afrika oor die nodige hervormings vir die daarstelling van ‘n groothandel-elektrisiteitsmark. Die studie, wat tydens die Britse klimaats-afgevaardigde Rachel Kyte se besoek aan Kaapstad aangekondig is, sluit in tariefmodellering, regsbepalings en finansiële risiko-evaluerings. Die befondsing strook met Suid-Afrika se Billike Energie-oordrag-vennootskap, hoewel Amerika sy belofte van 27-miljard-rand teruggetrek het. Die Britse regering sê hy bly daartoe verbind om energie-deregulering en die vermindering van uitstralings te ondersteun.
# Die DA vra die vinnige instelling van die Vrystaatse Wetsontwerp op Gemeenskapswetstoepassing na die skerp styging in polisiewangedrag in die provinsie. Die nuutste verslag van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat toon ‘n toename van 11 tot 19 sterftes in aanhouding, asook ‘n verhoging in aanranding- en verkragtingsake teen polisielede. Roy Jankielsohn van die DA sê van die 338 sake wat na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys is, het slegs sewe tot vervolging gelei:
# Verlede jaar se matrieks het tot die 17de van die maand tyd om aansoek te doen om ‘n hereksamen. Star Schools se uitvoerende hoof, Vimala Ariyan, beklemtoon ‘n matriek-kwalifikasie kan die armoede-siklus verbreek, want mense daarsonder verdien in hulle leeftyd 75-persent minder. Die Tweedekans-matriekprogram bied steun, maar daar is steeds uitdagings soos toegang tot data en studieplekke. Ariyan vra studente om geakkrediteerde instellings met behoorlike befondsing te kies en beklemtoon ‘n hereksamen kan lei tot beter onderrig- en werksgeleenthede.
# Krieket: Pakistan se vorige toets-hoofafrigter, Jason Gillespie, beskryf sy opvolger, Aaqib Javed, as ‘n hanswors wat hom en die gewese witbal-afrigter, die Suid-Afrikaner Gary Kirsten, ondergrawe het sodat hy hulle rolle kon oorneem. Albei het laat verlede jaar bedank nadat hulle in April aangestel is. Javed het op sosiale media gesê Pakistan se onlangse swak spelpeil is te wyte aan ‘n gebrek aan deurlopendheid rondom afrigters en keurders. Gillespie sê Javed en die keurders moet die skuld kry vir die gasheer se swak vertoning in die Kampioenetrofee.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-585-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-922-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Vier-honderd-en-20 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Hiervan is 320 op staatseiendom doodgemaak en 100 in privaat parke, reservate of op plase. Dit is 79 minder as die 499 in 2023. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê onwettige handel in natuurlewe bly ʼn wêreldwye probleem wat ernstige, globale samewerking verg om die misdaadnetwerke te ontwrig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….