Nuus 13:00
BULLETIN 5 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika slaan toe op 50 NRO’s wat van geldwassery verdink word
# Minister Ramokgopa sê kernkrag is steeds deel van Suid-Afrika se energiemengsel
# En RISE Mzansi steun die hersiening van die paroolstelsel
# Owerhede stel ondersoek in na 50 organisasies sonder winsoogmerk wat verdink word van geldwassery en terreurbefondsing. Die waarnemende direkteur-generaal van Maatskaplike Ontwikkeling, Peter Netshipale, sê sekere buitelands-gesteunde groepe buit NRO’s uit om lede te werf, wat ‘n bedreiging is vir nasionale veiligheid. Hy sê hierdie stap strook met die Finansiële Aksie-taakspan se riglyne. Hy sê ondersoeke na onregmatige transaksies duur voort aangesien die Nasionale Tesourie hoop dat Suid-Afrika teen Oktober van die taakspan se gryslys verwyder sal word.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het Suid-Afrika se verbintenis tot kernenergie bevestig en sê kernkrag word nou internasionaal aanvaar as een van die skoonste vorms van energie. Hy het Dinsdag by die Afrika Energie-indaba in Kaapstad gepraat. Ramokgopa sê die land is verplig om sy kweekhuisgasse te verminder en sy nywerheidsbasis te verbreed:
# RISE Mzansi verwelkom die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, se verbintenis om die paroolstelsel te hersien en te verseker dat dit aanpas by huidige neigings. Volgens die minister is daar sedert 2022/’23 parool toegestaan aan meer as ‘n duisend oortreders wat lewenslange tronkstraf uitdien. RISE Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, sê Groenewald het ook onthul dat 13 mense wat op parool is, se paroolstatus tans heroorweeg word:
# Sokker: Die Franse polisie sê vandag se Kampioeneligawedstryd tussen Liverpool en Paris Saint-Germain word nie as ‘n hoë sekerheidsrisiko geag nie. Die eerste kragmeting in die ronde van 16 op die Parc des Princes is die eerste keer dat Liverpool na Parys terugkeer sedert 2022 se Kampioeneliga-eindstryd teen Real Madrid op die Stade de France in chaos gedompel is. Daardie wedstryd is met ‘n halfuur vertraag omdat ondersteuners gesukkel het om die stadion binne te gaan. Sowat twee-duisend ondersteuners van Liverpool gaan vandag se wedstryd bywoon.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-161-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-918-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van KwaZulu-Natal het ‘n toelaag van 46,5-miljoen-rand van die Nasionale Instituut vir Gesondheid- en Sorgnavorsing ontvang om ʼn baanbrekende waarskuwingstelsel vir uiterste weerstoestande in Suid-Afrika te ontwikkel. Die instelling werk saam met die Universiteit van die Weste van Skotland, die Royal College of Surgeons in Ierland en die Universiteit van Portsmouth in Engeland. Die projek wil kwesbare gemeenskappe en gesondheidstelsels se weerstand teen klimaatverwante rampe soos oorstromings en gepaardgaande gesondheidsgevare versterk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….