Nuus 13:00
BULLETIN 4 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Betereinders vra eenheid in die land te midde van spanning met Amerika
# Fietsry: Alles is slaggereed vir die 47ste Kaapstadse fietstoer
# En Dolly Parton se man sterf op 82
# Die Afrikaanse drukgroep Betereinders het hulle veldtog Not USA But You SA van stapel gestuur wat ‘n beroep doen vir eenheid in die land terwyl spanning tussen die twee lande steeds voortduur. Dit volg op president Cyril Ramaphosa se kritiek op AfriForum en Solidariteit vir beweerde verdelende mededelings aan die Amerikaanse regering en die bevordering van Afrikanerbelange. Betereinders se medestigter, Johan Erasmus, het aan Newzroom Afrika benadruk Afrikaners is nie slagoffers nie en moet hulle identiteit plaaslik omarm:
# Die Raad vir Gesondheidsorgbefondsers daag die Nasionale Gesondheidsversekeringswet vandag in die Hooggeregshof in Pretoria uit en beskuldig die regering van vertragingstaktiek om die saak te laat draal. Hulle voer aan die wet is vaag, ongrondwetlik en onbekostigbaar, en waarsku dit kan gesondheidsorgdienste skade berokken en tot die massa-uittog van beroepslui aanleiding gee. Katlego Mothudi van die organisasie voer aan Ramaphosa het wetlike verpligtings ignoreer toe hy die wet onderteken het:
# Landboukundiges doen ‘n beroep vir die kommersialisering van Suid-Afrika se bokbedryf om ekonomiese groei te stimuleer. Die Landbounavorsingsraad en belanghebbendes in die bedryf beklemtoon die meeste bokke word lewendig op informele markte verkoop, met slegs 0,5-persent wat deur formele slagpale verwerk word. Kenners voer aan beter teling, beter voorsieningskettings en regeringsingryping kan werk skep, voedselsekerheid verbeter en die afhanklikheid van invoere verminder. Die raad beveel teelsentrums, formele groepering-spilpunte en ‘n verhoging in die bevordering van bokvleis en -suiwel aan.
# Fietsry: Die Stad Kaapstad sê hy is slaggereed vir die 47ste Kaapstadse fietstoer – die wêreld se grootste fiets-tydren. Sowat 30-duisend fietsryers sal Sondag een van drie roetes aanpak, insluitend die tradisionele roete van 109-kilometer vanaf die Parade reg rondom die Kaapse Skiereiland. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die vroue-uitnodigingswedren van 78-kilometer en die seuns onder 17 se wedren sal in Vishoek wegspring en in Groenpunt eindig:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-857-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die ikoniese country-musiekster Dolly Parton se man, Carl Dean is op 82-jarige ouderdom dood in Nashville, Tennessee. Die twee het buite ‘n wassery ontmoet op die dag toe ʼn 18-jarige Parton Nashville toe getrek het. Hulle is twee jaar later, in 1966, tydens ʼn intieme seremonie in Ringhold, Georgia, getroud. Dean, ʼn sakeman wat sy eie asfalt-plaveisel-onderneming besit het, is selde saam met die sangeres in die openbaar gesien. Parton sê woorde kan nie die liefde beskryf wat hulle oor 60 jaar gedeel het nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….