Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kritiek-beseerde SANW-soldate word uit die DRK huis toe gebring
# Die laaste groep van meer as twee-duisend rekrute sluit aan by die polisie se akademies
# En rugby: Die Bok- en Stormers-stut Steven Kitshoff kondig sy uittrede aan
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het bevestig ‘n groep soldate wat in ‘n bedenklike toestand is en dringend mediese aandag nodig het, is gerepatrieer uit die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die soldate is gewond in gevegte met die Rwandees-gesteunde M23-rebelle. Die Weermag se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê die ander beseerde soldate wat gerepatrieer word sal volgens skedule dié week in Suid-Afrika aankom:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sy werwingsproses vir 2024/’25 afgehandel en sy verbintenis nagekom om oor drie jaar 30-duisend beamptes te werf. Die laaste groep van twee-duisend-186 rekrute het landwyd by polisie-akademies aangekom. Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, verwerp aansprake op sosiale media van ‘n derde groep en bevestig die werwingsproses is amptelik afgehandel:
# Die globale chemikalieë en energiemaatskappy Sasol sê hy verander sy uitstralingsverminderings-padkaart aansienlik. Die padkaart mik egter steeds na ‘n 30-persent kweekhuisgasvrystelling-vermindering teen 2030. Sasol se uitvoerende hoof, Simon Baloyim sê hulle het planne laat vaar om vloeibare natuurlike gas te gebruik om afhanklikheid van steenkool by die Secunda-aanleg in Mpumalanga te verminder. Die aanleg is die grootste enkele vrysteller van kweekhuisgasse ter wêreld. Baloyi sê hulle beplan nie om Secunda se produksievlakke te laat afneem nie totdat die natuurlike gasvoorraad in 2034 opdroog.
# Rugby: Die stut van die Springbokke en die Stormers, Steven Kitshoff, moes noodgedwonge sy uittrede aankondig weens ‘n ernstige nekbesering. Dokters het hom ingelig dis uiters gevaarlik om voort te gaan. Die 33-jarige het 83 toetse vir Suid-Afrika gespeel, twee keer die Wêreldbeker gewen asook ʼn reeks teen die Britse en Ierse Leeus en ʼn Rugbykampioenskap. Hy het ook 138 wedstryde vir die Stormers gespeel. Kitshoff sê die sport was sy lewe vanaf sy kinderdae en hy was gelukkig om die droom van baie jong seuns uit te leef.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-256-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-940-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Waterfall City in Gauteng het die prys gewen vir die beste internasionale meesterplan op die Internasionale Eiendomstoekennings in Londen. Dit is die eerste keer dat die gebied die kategorie wen, wat erkenning gee aan grootskaalse stedelike ontwikkelings. Waterfall City het ook die titel ingepalm van beste meesterplan Afrika 2024-2025. Die uitvoerende hoof, Willie Vos, loof die prestasie as ‘n bewys van vernuwing en uitnemendheid, en voeg by die toekennings lig Afrika se groterwordende rol uit in globale stedelike ontwikkeling.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….