Nuus 13:00
BULLETIN 23 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tegniese uitdagings het fase 6-beurtkrag genoodsaak
# Sokker: Banyana Banyana klop Lesotho in ‘n voorbereidingswedstryd vir die Afrikabekertoernooi
# En rugby: Ierland is steeds stewig boaan die Sesnasies-punteleer
# Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê fase ses-beurtkrag is genoodsaak toe talle opwekkingseenhede van die Majuba-kragstasie in Mpumalanga onklaar geraak het omdat ‘n transformator oorverhit het. Hy bevestig dis ‘n strukturele en tegniese terugslag, maar verseker maatreëls is getref om te verhoed dat die situasie verder uitkring. Hoewel Medupi en Camden ook probleme ondervind het, bly Eskom verbind tot sy opwekkings-herstelplan. Marokane waarsku dié week is van die uiterste belang vir die herstelproses:
# ‘n Nuwe studie voorspel Sasol se aanleg in Secunda, Mpumalanga, sal van 2030 afskaal weens koolstofbelasting, uitlatingsteikens en steenkool- en gasreserwes wat verminder. Kenners voorspel produksie sal afneem, wat Suid-Afrika se ekonomie sal raak. Sasol weerspreek egter die aansprake dat die aanleg sy einde nader en beklemtoon hernubare energiebeleggings en verbeterde doeltreffendheid. Die maatskappy hou vol hy sal aanpas, eerder as sluit, ondanks toenemende omgewings- en finansiële druk.
# Lawrance Mdlalose, wat daarvan beskuldig word dat hy die dodelike brand in die Usindiso-gebou in Johannesburg gestig het, keer op 14 April terug na die plaaslike Hooggeregshof. Hy staan tereg op 76 aanklagte van moord en 12 van poging tot moord. Aanklaers beweer hy het die brand op 31 Augustus 2023 gestig om ‘n aanranding te verdoesel. Regshulp is vir Mdlalose bevestig. ‘n Kommissie van ondersoek is van stapel gestuur om die tragedie te ondersoek.
# Brandbestryders in die Kaapse Wynland het ‘n besige nag deurgemaak met die bestryding van verskeie brande. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê die brande by Dunstone en Rooshoek naby Wellington is onder beheer gebring, terwyl spanne in Oaklands vlamme weggekeer het van perdestalle en plantasies. In Witzenberg het suksesvolle voorbrande gehelp om kern-brandlyne te bekamp. Otto het bevestig dat spanne voortgaan met opruiming en brandpunte dophou terwyl hulle steeds probeer om die brande te beheer:
# Sokker: Banyana Banyana het ‘n naelskraapse oorwinning van 1-nul oor Lesotho behaal in ‘n internasionale vriendskaplike wedstryd op die Universiteit van Johannesburg se kampus in Soweto. Nobahle Mdelwa se strafskop het die verskil gemaak. Afrigter Desiree Ellis het die wedstryd gebuik om haar groep te vergroot voor die Vroue-Afrikabekertoernooi in Julie. Sy moedig die spelers aan om op hulle sterkpunte te fokus wanneer hulle weer teen Lesotho speel in die laaste internasionale vriendskaplike wedstryd:
# En rugby: Ierland en Engeland is in die eerste twee plekke op die Sesnasies-punteleer na oorwinnings oor Wallis en Skotland. Ierland moes hard werk om ‘n baie verbeterde Wallis 27-18 te klop in Cardiff. Wallis het in ‘n stadium 18-10 voorgeloop, maar die verdedigende kampioen het teruggeveg. Op Twickenham het Engeland naelskraaps 16-15 teen Skotland gewen. Die Suid-Afrikaanse vleuel Duhan van der Merwe se drie in beseringstyd het Skotland binne een punt van die gasheer geneem, maar mede-kaptein Finn Russell het misgeskop. Italië speel vanmiddag in Rome teen Frankryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….