Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum eis deursigtigheid in verband met die SANW se ontplooiing in die DRK
# Die Stad Johannesburg waarsku teen die onwettige sink van boorgate na die ontwrigting van die Gautrein se dienste
# En motorsport: F1-spanne stel hul spandrag vir 2025 in die O2-arena bekend
# AfriForum dring aan op deursigtigheid na aantygings dat president Cyril Ramaphosa die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag vir persoonlike en politieke gewin gebruik het. Dit volg op die dood van 14 soldate in gevegte met M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo. Jacques Broodryk van AfriForum sê die beskuldings dui skynbaar aan dat soldate nie na die DRK gestuur is vir streeksbestendigheid of nasionale beveiliging nie, maar om die finansiële belange van die elite met politieke bande te beskerm:
# Die Stad Johannesburg sê die onwettige sink van boorgate op wooneiendomme kan ernstige gevolge hê. Dit volg nadat ‘n onwettige boorgat op ʼn privaat eiendom in Killarney veroorsaak het dat die Gautrein se diens tussen Parkstasie en Rosebank opgeskort moes word omdat water en grond na die stelsel se tonnelgedeelte deurgesyfer het. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê daar is regulasies om seker te maak boorgate word veilig en volhoubaar gesink:
# Die gemeenskap van Diazville in Saldanha in die Wes-Kaap hou vandag ‘n bid- en gedenkswandeling ter herdenking van Joslin Smith, wat ‘n jaar gelede verdwyn het. Sy was ses-jaar oud toe sy vermis geraak het terwyl sy in die sorg van haar ma se vriend was. Haar ma, Kelly Smith, haar vriend, Jacquin Appollis, en Steveno van Rhyn staan tereg op aanklagte van ontvoering en kinderhandel. Die drie verskyn volgende Vrydag weer in die Wes-Kaapse Hooggeregshof vir ‘n voorverhoor.
# Motorsport: Al tien Formule Een-spanne en hul 20 renjaers het hul spandrag vir 2025 bekend gestel tydens ʼn geskiedkundige geleentheid in die O2-arena in Londen om die sport se 75ste herdenking te vier. Elke span het geleentheid gekry om hul nuwe spandrag en bestuurders aan die gehoor voor te stel. Daar is vanjaar ses nuwelinge op die baan: Kimi Antonelli, Isack Hadjar, Jack Doohan, Gabriel Bortoleto, Liam Lawson en Ollie Bearman – die meeste sedert 2021. Toetse begin volgende Woensdag op die Bahreinse internasionale renbaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-762-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-945-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Suid-Afrika sê hy is daartoe verbind om die toepassing van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te bevorder en dit sluit in die uitskakeling van vullis en plastiek wat net een keer gebruik word. Minder as tien-persent van die sewe-miljard ton plastiek afval wat wêreldwyd gestort word, is herwin. Unisa sê sy bestuurskomitee het die gebruik van plastiek wat net een keer gebruik word, op die kampus verbied. Hy sê die komitee het ook ingestem dat spysenieringsdienste nie plastiek of polistireen-houers op die kampus mag gebruik nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….