Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad se burgemeester vra minister Godongwana vir meer geld vir bekostigbare behuising
# Die Britse eerste minister sê Amerikaanse steun sal keer dat Rusland Oekraïne weer aanval
# En krieket: Die Proteas speel teen Australië, Engeland en Afganistan in die groepsafdeling van die Kampioenetrofee
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die nasionale begroting vir 2025/’26 moet die belofte van president Cyril Ramaphosa in sy staatsrede insluit om staatsgesubsidieerde befondsing te verbeter. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer môre sy begroting. Hill-Lewis sê die metro het ‘n minimum van 99-persent van alle toekenningsbefondsing sedert 2020 bestee om informele nedersettings op te gradeer om in ‘n mate gratis huise aan die armstes te verskaf:
Die ACDP sê Godongwana sal uitgawes en inkomste in ‘n lae groei-omgewing moet balanseer en die vermoë moet vind om nie belasting of skuld aansienlik te verhoog nie. Steve Swart van die ACDP sê staatsfinansies worstel met ernstige risiko’s en die belangrikste is ‘n potensiële handelsoorlog met Amerika:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê Amerikaanse steun is die enigste weg na vrede in Oekraïne en die enigste manier om te keer dat Rusland weer sy buurland aanval. Hy was deel van ‘n vergadering van Europese leiers in Parys. Hulle het bekommernisse bespreek oor die Trump-administrasie se besluit om vredesonderhandelinge met Rusland aan te gaan, wat vandag sonder Oekraïne in Saoedi-Arabië begin. Starmer sê enige vredesooreenkoms vir Oekraïne moet sy soewereiniteit beskerm:
# Krieket: Suid-Afrika pak Australië, Engeland en Afganistan in Groep B van die Kampioenetrofee wat môre in Pakistan begin. Groep A bestaan uit die gashere, Indië, Nieu-Seeland en Bangladesj. Elke span speel een keer teen die ander in die groep en verdien twee punte vir ‘n oorwinning en een punt vir wedstryde wat nie ‘n uitslag oplewer nie. Die boonste twee spanne in elke groep kwalifiseer vir die halfeindstryde. Die Proteas se eerste wedstyd is Vrydag teen Afganistan en die eindstryd word op 9 Maart gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-662-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: Celebrity MasterChef South Africa se wenner, Seth Shezi, het 52-duisend-rand aan Ladles of Love geskenk. Die organisasie sonder winsoogmerk in Kaapstad verskaf voedsame, gesonde kos aan kwesbare kinders en arm gemeenskappe. Ladles of Love sal die geld gebruik om ʼn hele jaar lank twee maaltye per dag te skenk aan 175 kinders by twee kleuterskole in Delft en Fisantekraal. Shezi sê sy prestasie in MasterChef bied hom geleentheid om ʼn humanitêre bydrae te lewer. Hy sê dis betekenisvol om te kan teruggee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….