Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassade in Pretoria gaan ‘n Afrikaner-versoekskrif aan Trump stuur
# Tennis: Jannik Sinner se skorsing van drie maande ontlok steeds uiteenlopende reaksie van ander spelers
# En, Captain America: Brave New World is boaan die trefferlys by kaartjiekantore in sy openingsnaweek
# Die Amerikaanse ambassade in Pretoria het bevestig hulle gaan ‘n versoekskrif van ʼn groep Afrikaners aanstuur na die Amerikaanse president, Donald Trump. Sowat ‘n duisend mense het Saterdag buite die ambassade byeengekom en gevra vir Amerikaanse ingryping teen Suid-Afrika se Onteieningswet. Die regering hou vol daar is geen grondgrype nie en geen groep word geteiken nie, maar die aktivis Willem Petzer beweer die wet raak die Afrikaner-gemeenskap:
# Die vakbondfederasie Saftu verwag nog ʼn begroting teen werkers en armes wanneer die minister van Finansies, Enoch Godongwana, Woensdag sy rede in die Parlement lewer. Die regering is onder druk om maniere te vind om skuld te verminder, groei-vriendelike beleid te skep en sukkelende staatsondernemings te help. Saftu se woordvoerder, Newton Masuku, sê die begroting sal die neo-liberale ekonomiese agenda bevat wat miljoene Suid-Afrikaners in armoede en werkloosheid gedompel het:
# Nege mense is in Kentucky dood en een in Georgia toe stortreën gebiede in die suidooste van Amerika deurdrenk het. Beeldmateriaal uit verskeie state toon hoe bome omwaai, voertuie deur vloedwater verswelg word en huise oorstroom. President Trump het Kentucky se versoek goedgekeur dat die gebied tot rampgebied verklaar word en die Federale Noodbestuursagentskap opdrag gegee om ondersteuningspogings in die staat te koördineer. Kentucky se goewerneur, Andy Beshear, sê noodpersoneel het in minder as 24 uur meer as ʼn duisend reddingspogings uitgevoer:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, se skorsing van drie maande ontlok steeds uiteenlopende menings in die tenniswêreld. Die Italianer het die skorsing aanvaar nadat hy in Maart verlede jaar twee keer positief getoets het vir geringe spore van ʼn verbode middel. Die vroue se wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, sê die stelsel skrik spelers te veel af. Nommer-drie, Coco Gauff van Amerika, hoop die maatreël is om die sport te beskerm en nie spelers uit te vang nie. Nog ʼn Amerikaner, Jessica Pegula, reken die proses is heeltemal gebroke.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-266-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-904-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Die 35ste uitgawe van Disney se Marvel Cinematic Universe, Captain America: Brave New World, het in sy openingsnaweek boaan Noord-Amerika se trefferlys by kaartjiekantore beland. Anthony Mackie het Cap se mantel by Chris Evans oorgeneem wat byna ʼn dekade lank die rol van die Avenger in Marvel-flieks gespeel het. Paddington in Peru, die derde fliek in StudioCanal se konsessie, is tweede gevolg deur Sony se Heart Eyes. Universal and DreamWorks Animation se Dog Man is vierde, en Ne Zha 2, ʼn animasiefliek met ʼn Chinese klankbaan, voltooi die top-vyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….