Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Denel sê hy maak ‘n terugkeer tot internasionale markte
# ‘n Ontvoerde negejarige meisie van Oos-Londen word met haar gesin herenig
# En tennis: Die Amerikaanse Ope vernuwe sy gemengde-dubbelspelformaat
# Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel sê hy is steeds besig om sy globale profiel uit te bou met ‘n sterk verteenwoordiging op volgende week se Internasionale Verdedigings-tentoonstelling en -konferensie in Abu Dhabi. Daar is sowat een-duisend-400 uitstallers van 65 lande by die geleentheid wat sowat 135-duisend besoekers lok. Denel se woordvoerder, Pam Dlamini, sê die tentoonstelling is ‘n ideale platform om hulle produkte weer bekend te stel, wat beskou word as koste-doeltreffende oplossings vir die verdedigings- en sekerheids-omgewings:
# Die Departement van Binnelandse Sake stel vandag sy Vertroude Toer-operateur-skema bekend. Dit stel goedgekeurde toeroperateurs in Indië en China in staat om groep-visumaansoeke digitaal in te dien, wat rompslomp uitskakel en goedkeuring binne drie dae moontlik maak. Slegs vier Suid-Afrikaanse sendings dien meer as 2,8-miljard mense in die twee lande en die skema wil toue en die invul van vorms uitskakel. Die departement beklemtoon dit mik daarna om toerismegroei ‘n reuse-hupstoot te gee en werk te skep.
# Die negejarige Emaan Fatima Ghumman wat verlede Dinsdag buite die Dreamland Primary School in Buffalo Flats, Oos-Londen, ontvoer is, is met haar gesin herenig. Volgens berigte is sy vanoggend in die vroeë oggendure naby ‘n polisiekantoor afgelaai. Die gesin het bevestig dat Emaan getraumatiseerd is en behandeling ontvang na haar beproewing. Die polisie ondersoek die voorval.
# Tennis: Die Amerikaanse Ope gaan sy gemengde dubbelspel verskuif na ʼn week voor die hooftoernooi begin. Dit sal uit 16 spanne bestaan, met agt wat regstreeks toegang kry op grond van hul gekombineerde enkelspel-ranglysposisies en die ander agt promotorskeuses. Die vroeër rondes se wedstryde sal bestaan uit die beste uit drie stelle, net tot vier potte, met ‘n beslissende punt wanneer 40-elk bereik word. Die toernooi-direkteur, Stacey Allaster, sê die geleentheid vind op 19 en 20 Augustus plaas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-149-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-891-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede, Velenkosini Hlabisa, bied hierdie week ‘n nasionale konvensie met leiers van die Khoi-San in Johannesburg aan om hul jarelange uitdagings te bespreek. Die geleentheid moet eenheid en samewerking binne Khoi-San-gemeenskappe bevorder. Hlabisa beklemtoon die belangrikheid van opbouende dialoog om grondwetlike en statutêre erkenning te verkry. Hy herbevestig die departement se verbintenis om te verseker die proses slaag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….