Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EU steun Suid-Afrika se G20-leierskap te midde van die Amerikaanse boikot
# Die Amerikaanse konsulaat kan gesluit word as Sandton-rylaan se naamsverandering voortgaan
# En sokker: Pep Guardiola wil hê City moet teen Real Madrid bewys hulle het steeds iets spesiaals
# Die president van die Europese Raad, Antonio Costa, het sy volle steun aan Suid-Afrika se G20-leierskap beloof nadat Amerika besluit het om nie die beraad by te woon nie. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het kommer oor Suid-Afrika se beleide uitgespreek. Costa het tydens ‘n oproep met president Cyril Ramaphosa die voortgesette versterking van bande en multilaterale samewerking uitgelig voor die Suid-Afrika-Europese Unie-beraad op 13 Maart. Hy sê hulle deel waardes soos demokrasie, menseregte, waardigheid en gelykheid, en hoop die beraad sal hul sterk bilaterale vennootskap uitbrei.
Die voorloper om as Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika benoem te word, Joel Pollak, waarsku intussen die land se konsulaat in Johannesburg kan gesluit word as Sandton-rylaan se naam na Leila Khaled-rylaan verander word. Daar is steeds sterk teenkanting teen die voorgestelde naamsverandering, wat deur die ANC en die EFF gesteun word. Khalaed, ‘n Palestynse aktivis, is bekend vir haar betrokkenheid by vliegtuigkapings. Pollak voer aan die verering van Khaled is regstreeks teenstrydig met Amerika se kernwaardes. Die proses is sedertdien gestaak.
# Build One South Africa het sy Sakeraad bekendgestel. Dis ‘n platform om seker te maak klein-, medium- en mikro-ondernemings se stemme word gehoor wanneer ekonomiese beleid gevorm word. Kleinsake-ondernemings is die ruggraat van die land se ekonomie. Dit dra 60-persent tot werkskepping by en meer as 40-persent tot die bruto binnelandse produk. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die raad sal uit ʼn wye verskeidenheid rolspelers bestaan wat KMMO’s se groei wil ontsluit:
# Sokker: Pep Guardiola daag sy span, Manchester City, uit om te bewys hulle is steeds spesiaal wanneer hulle vanaand in die Kampioeneliga teen Real Madrid te staan kom, ondanks ‘n wipplank-seisoen vir die Premierliga-kampioen. Die twee klubs speel die vierde agtereenvolgende seisoen teen mekaar in Europa se elite-kompetisie, maar hierdie keer baie vroeër aangesien albei onderpresteer het in die nuwe ligafase. City is nou 22ste uit die 36 spanne op die punteleer nadat hulle Klub Brugge geklop het, terwyl Real, die verdedigende kampioen, 11de geëindig het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-257-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-909-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Navorsers van die Universiteit van Pretoria het ʼn internasionale span sterrekundiges gelei wat dieper insig verskaf het oor die algehele lewensloop van reuse-radiosterrestelsels. Die studie het bekende teoretiese modelle uitgedaag deur te verduidelik hoe buite-galaktiese kosmiese fonteine groei om sulke geweldige afstande te dek. Die studieleier, Gourab Giri, sê astrofisici bestudeer sterrestelsels vir meer as net die sterre wat hulle kan sien, maar kyk ook na baie verskynsels wat dikwels met mekaar verband hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….