Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse tariefplan bedreig Suid-Afrika se staal- en aluminiumsektor
# Minister Steenhuisen waarsku spanning tussen Amerika en Suid-Afrika kan die landbousektor benadeel
# En Amerikaanse voetbal: Philadelphia Eagles onttroon Chiefs om die Super Bowl te wen
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sal na verwagting vandag ‘n tarief van 25-persent op staal- en aluminiuminvoere aankondig. Kenners glo dit kan ‘n aansienlike invloed op die metaalbedryf in Suid-Afrika hê. Suid-Afrika het in 2024 yster, staal en aluminium van meer as 16,6-miljard-rand na Amerika uitgevoer. Trump het ook herbevestig hy sal hierdie week wederkerige tariewe op produkte aankondig in gevalle waar ‘n ander land heffings op Amerikaanse goedere gehef het.
Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het intussen kommer uitgespreek oor die spanning tussen Amerika en Suid-Afrika en vrees dit kan ‘n negatiewe uitwerking op die landbousektor hê. Hy het in Ceres in die Wes-Kaap beklemtoon boere, vervaardigers en uitvoerders sal die meeste geraak word. Steenhuisen vra ‘n dringende dialoog met die VSA om nadelige gevolge te voorkom en ‘n sterk handelsvennootskap te handhaaf:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik vir ernstige donderstorms oor Gauteng vandag. Dit kan insluit erge weerlig, stormsterk wind wat skade kan veroorsaak en swaar reën. Die vooruitsig vir reën is 50-persent. Die woordvoerder vir Johannesburg se noodbestuursdienste, Robert Mulaudzi, sê motoriste word versoek om uiters versigtig te bestuur in die reëntoestande en oorstroomde paaie en laagwaterbrûe te vermy:
# Die president van Rwanda, Paul Kagame, het uitgevaar teen die Demokratiese Republiek die Kongo se pogings om sy land stil te maak oor voortslepende sekerheidsbedreigings. Hy het gepraat op die gesamentlike spitsberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Oos-Afrikaanse Gemeenskap en die DRK gekritiseer omdat die land nie kwessies aanpak wat al lank voortduur nie, ondanks Rwanda se pogings tot dialoog. Hy beklemtoon die konflik, wat gewortel is in etniese spanning, is deur die DRK begin en sonder regverdiging op Rwanda afgedwing. Hy vra ernstige optrede om die saak by te lê en waarsku teen blote vergaderings sonder betekenisvolle oplossings.
# Amerikaanse voetbal: Philadelphia Eagles het in ’n skitterende poging die verdedigende kampioen, Kansas City Chiefs, 40-22 verslaan en die Super Bowl in New Orleans gewen. Chiefs het probeer om ’n ongekende derde agtereenvolgende Super Bowl-sege op te raap. Hierdie oorwinning is uit wraak vir Eagles se nederlaag van 38-35 teen Chiefs twee jaar gelede. Eagles se agterspeler, Jalen Hurts, wat as waardevolste speler aangewys is, sê die oorwinning was ’n spanpoging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-776-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-900-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….