Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die landsvlag hang halfstok ter ere van gesneuwelde Suid-Afrikaanse soldate
# Die EU waarsku Trump se sanksies teen die Internasionale Strafhof bedreig die internasionale strafregstelsel
# En rugby: Engeland kies Fin Smith op losskakel en Marcus Smith op heelagter teen Frankryk
# President Cyril Ramaphosa het beveel die landsvlag moet vir ‘n week halfstok hang ter ere van die 14 Suid-Afrikaanse soldate wat in die Demokratiese Republiek die Kongo gesterf het. Die soldate is dood in gevegte met Rwandees-gesteunde M23-rebelle in die oostelike van die land. Ramaphosa het in sy staatsrede hulde gebring aan die gesneuwelde soldate wat deel was van ‘n vredesending:
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen Suid-Afrika het reële ekonomiese groei nodig, nie nog sosialisme nie, wat werkskepping vernietig. Die organisasie sê Ramaphosa se staatsrede was ‘n teleurstelling omdat hy die ANC se mislukte ideologie herhaal en politieke speletjies gespeel het. Bennie van Zyl van TLU SA sê as Ramaphosa ernstig is oor groei, sal hy aktief privaat eienaarskap beskerm en beleid stabiliseer om belegging aan te moedig:
# Die Europese Unie waarsku sanksies teen die Internasionale Strafhof bedreig sy onafhanklikheid en die breër regstelsel. Dit volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, die hof gestraf het oor sy ondersoeke na Amerika en Israel. Hy het bates bevries en ‘n reisverbod opgelê teen amptenare, werknemers en hul familielede, asook enigiemand wat moontlik die hof met sy ondersoeke bygestaan het. Die hoof van die Europese Raad wat die 27 lidlande van die EU verteenwoordig, Antonio Costa, het op X geskryf die sanksies ondermyn die internasionale strafregstelsel in die geheel.
# Rugby: Fin en Marcus Smith is albei in Engeland se agterlyn ingesluit vir môre se Sesnasieswedstryd teen Frankryk op Twickenham. Fin begin die eerste keer op losskakel. Afrigter Steve Borthwick, wie se span verlede week 27-22 teen die verdedigende kampioen, Ierland, verloor het, het Marcus na heelagter verskuif om sy 22-jarige naamgenoot die nommer 10-trui te kan gee. Fin se skakelmaat is sy spanmaat by Northampton, Alex Mitchell. Die heelagter in die eerste wedstryd in Dublin, Freddie Steward, is uit die groep gelaat.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-329-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-868-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Nuwe studie toon tuberkulose-pasiënte wat kontantaansporings en berading ontvang se kans dat hulle behandeling misluk, is 52-persent laer. Die studie wat by nege klinieke in Johannesburg uitgevoer is, was onder leiding van dokter Harry Moultrie van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en Wits-professor, Nazir Ismail. Ismail sê die studie het ook getoon dat individue wat gediagnoseer word maar nie terugkeer vir behandeling nie, het van 15,8-persent tot 3,9-persent gedaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….