Nuus 13:00
BULLETIN 22 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie verwerp die Menseregte-kommissie se bevindings oor haatspraak
# Die Posbank verseker toelae-begunstigdes hulle sal hulle geld kry
# En tennis: Sinner behoort reg te wees vir die verdediging van sy titel op Flushing Meadows
# Die leier van die PA en minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, verwerp die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se bevindings van prima facie haatspraak teen hom oor plasings uit die verlede op sosiale media. McKenzie noem dit lasterlik en polities-gemotiveerd en beweer hy het nooit amptelike korrespondensie ontvang nie en is op ‘n onregverdige wyse vooraf veroordeel. Hy sê dit is ‘n veldtog om sy naam te skend voor moontlike toekomstige ambisies:
# Die Vereniging van Streeklanddroste van Suider-Afrika eis ‘n salarisverhoging van 34-persent soos aanbeveel deur die Onafhanklike Vergoedingskommissie. Die Gautengse Hooggeregshof het die vereniging se dringende aansoek van die rol geskrap ná die Presidensie se laat indiening van hofstukke, wat spanning verhoog het. Die vereniging voer aan dat landdroste, wat maandeliks tussen 45-duisend- en 55-duisend-rand verdien, onderbetaal word in vergelyking met parlementslede en burgemeesters.
# Die Posbank het miljoene ontvangers van maatskaplike toelaes wat sy swart kaarte en die goue Sassa-kaarte gebruik, verseker hulle sal steeds hul geld betyds ontvang. Dit volg op vals berigte dat die maatskappy se ooreenkoms met Sassa verstryk het, wat begunstigdes sal raak. Thamsanqa Cele van die Posbank het aan Newzroom Afrika gesê die ooreenkoms word soms hersien, maar sy teenwoordigheid of afwesigheid raak nie die betaling van maatskaplike toelaes nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê nie een van sy Oryx-helikopters is in die Demokratiese Republiek die Kongo agtergelaat nie. Volgens berigte het die helikopters weens ‘n gebrek aan geld in die DRK agtergebly. Die SANW sê net een helikopter is verlede jaar tydens die Verenigde Nasies se vredesoperasies beskadig en sal herstel word. Hy sê ander helikopters word gebruik en bly onder sy streng beheer. Die Weermag sê die berigte is misleidend.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, behoort fiks te wees om sy Amerikaanse Ope-titel te verdedig. Hy moes Maandag handdoek ingooi tydens die eindstryd van die Cincinnati Ope teen nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, en het ook aan die Amerikaanse Ope se gemengde dubbels onttrek. Sinner se afrigter, Darren Cahill, sê hy het ‘n virus onder lede maar voel beter en hulle glo hy sal reg wees. Die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar begin Sondag op Flushing Meadows in New York.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-998-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….