Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse premier vra voorkeur vir ekonomiese groei en werkskepping in die staatsrede
# Nog aardbewings tref Santorini
# En rugby: Canan Moodie speel Saterdag sy 50ste wedstryd vir die Bulle
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, bepleit ‘n ferm en beslissende staatsrede wat ekonomiese groei en werkskepping vooropstel. Hy vra president Cyril Ramaphosa om te fokus op die herstel van die land se hawens en spoornetwerk om handel en belegging ‘n hupstoot te gee. Winde vra ook fiskale dissipline om te verseker hulpbronne word na noodsaaklike dienste herlei:
Die landbou-organisasie TLU SA vra Ramaphosa intussen om vanaand aan te kondig dat die Onteieningswet onttrek en hersien word. Die organisasie se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê die wet se toepassing gaan die ekonomie, beleggersvertroue en die land se toekoms benadeel. Hy sê die grootste probleem is nie in beginsel ʼn Onteieningswet nie, maar die vae definisie van wat openbare belang is:
# Nog ‘n klomp aardbewings het die Griekse toeriste-eiland Santorini getref. Die aardbewings vorm deel van ‘n ongekende seismiese golf wat wetenskaplikes verstom en gelei het tot die massa-uittog van inwoners. Sewe agtereenvolgende skuddings van meer as 4 in omvang is vroegoggend aangeteken. Dit volg nadat ‘n aardbewing van 5,2, die sterkste sedert die naweek, gisteraand aangeteken is. Kenners kon tot dusver nie ‘n presiese skatting gee oor wanneer die seismiese bedrywighede sal eindig nie, maar beklemtoon dit is uiters ongewoon.
# Rugby: Die Springbok-vleuel, Canan Moodie, speel Saterdag die 50ste keer vir die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Stormers in Kaapstad. Dit is dieselfde stad waar hy in 2022 sy buiging vir die Curriebekerspan van die Pretoriase span gemaak het teen Westelike Provinsie. Die 22-jarige het in die Boland grootgeword. Die Bulle is tans derde op die VRK-punteleer nadat hulle ses van hulle agt vorige wedstryde gewen het terwyl die Stormers 12de is na vyf nederlae in nege wedstryde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-586-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-856-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Leërorkes in die Wes-Kaap het wyle oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap gevier met ʼn konsert by die Jubilee- en die Jabulani-tehuis in Kaapstad. Dit was deel van die wêreldwye 67 Minute-program. Die orkes het tydlose stukke soos Frank Sinatra in Concert, Misty, Rock Fantasy en Carpenters in Concert uitgevoer. Die orkes sê die vertoning was nie net ʼn musikale huldeblyk aan Mandela se gees van diens nie, maar ook ʼn viering van gemeenskap en erfenis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….