Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog vier Suid-Afrikaanse soldate sterf nadat M23-rebelle Goma aanval
# Trump onderteken ‘n uitvoerende bevel wat van transgender-ideologie in die Amerikaanse Weermag ontslae raak
# En, tennis: Joao Fonseca wil die voorste speler in die wêreld word na ‘n puik 2024
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het berig nog vier Suid-Afrikaanse soldate is dood in die Demokratiese Republiek die Kongo tydens intense geveg met M23-rebelle. Dit bring die dodetal op 13 te staan. Die soldate is vasgekeer in Goma en Sake, en het nie toegang tot mediese hulp of voorrade nie. Die Weermag se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê ‘n video waarin gesien kan word hoe soldate ‘n wit vlag hys, is bevestig as deel van ‘n mislukte wapenstilstand en beteken nie die soldate het oorgegee nie.
Die GOOD-party sê intussen die Weermag kan nie voortgaan om in skermutselings in die DRK betrokke te raak sonder voldoende militêre hulpbronne nie, met ammunisie wat opraak en min of geen lugsteun nie. Woordvoerder Brett Herron sê wat ‘n edele vredespoging was, dreig om deel te word van ‘n volskaalse streeksoorlog:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump het ‘n uitvoerende bevel onderteken om ontslae te raak van wat hy transgender-ideologie in die Weermag noem. Dit word beskryf as ‘n potensiële terugslag vir LGBTQ-regte. Trump het in ‘n reeks bevele ook gevra dat ‘n Amerikaanse weergawe van Israel se ysterkoepel-missielverdedigingstelsel gebou word. Hy het ook bevele onderteken vir die herinstelling van Weermaglede wat afgedank is omdat hulle geweier het om die Covid-19-entstof te neem, en om ‘n wyer regeringsonderdrukking van verskeidenheidsprogramme na die gewapende magte uit te brei.
# Tennis: Die Brasiliaanse tiener Joao Fonseca het die jongste manspeler sedert die Spanjaard Carlos Alcaraz geword om onder die top-100 in te skuif. Die 18-jarige het die afgelope jaar verbeter van 651ste tot 99ste op die wêreldranglys. Hy het verlede maand die eindtoernooi vir jong beroepspelers gewen en dié maand in Australië aan sy eerste Grand Slam-toernooi deelgeneem. Fonseco het die negende gekeurde Rus Andrey Rublev in die eerste ronde in Melbourne geklop voor hy in die tweede ronde teen die Italianer Lorenzo Sonego verloor het. Hy sê hy wil die wêreld se voorste speler word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-611-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-744-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die Noordpool se laaste ys-area wat ‘n noodsaaklike habitat is vir spesies wat van ys afhanklik is, kan gouer verdwyn as wat verwag is. Volgens ʼn nuwe studie deur navorsers van die McGill University, kan die laaste ys-gebied binne ʼn dekade verdwyn. Dit sal gebeur wanneer die sentrale Arktiese See in die somer sonder ys is. Die studie se hoofskrywer, Madeleine Fol, sê hierdie bevindings beklemtoon die dringendheid om aardverwarming te verminder sodat bestendige vooruitberamings vir belangrike Arktiese habitatte verseker kan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….