Nuus 13:00
BULLETIN 21 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie vernietig dwelms en ongeregistreerde medisyne van 420-miljoen-rand
# Saftu sê staatswerkers se pensioene is in gevaar terwyl die skandaal by die Agentskap vir die Administrasie van Staatspensioene verdiep
# En Zelensky wil eers sekerheidswaarborge hê voor hy Putin ontmoet
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê die polisie het dwelms en ongeregistreerde medisyne ter waarde van 420-miljoen-rand vernietig. Hy het tydens die vernietigingsproses in Gauteng gepraat. Masemola sê die stryd teen dwelmverwante misdaad word steeds in alle provinsies versterk, veral in bende-gesteisterde gebiede, met ‘n sterk fokus op aanbodvermindering soos omskryf in die Nasionale Dwelm-meesterplan:
# Saftu sê die spookwerker-kontrakskandaal van ‘n miljard-rand by die Agentskap vir die Administrasie van Staatspensioene plaas staatsamptenare se pensioene in ernstige gevaar. Saftu is ontsteld nadat 36-miljoen-rand reeds aan Shula Developers betaal is vir opknappings aan ‘n gebou wat die onderneming nie besit of huur nie. Die woordvoerder, Asive Dyani, sê die skandaal bedreig die aftreesekerheid van duisende staatsamptenare:
# Die ekonoom, Frederick Mitchell, sê die rand se vroeë waardevermindering na die instelling van die Amerikaanse tariewe was te wagte en is grootliks in die prys ingereken. Die eenheid het aanvanklik verswak maar sedertdien verstewig, aangehelp omdat die instelling tot 7 Augustus uitgestel is. Landbou-uitvoere ondervind verminderde aanvraag in Amerika, maar word gedeeltelik teengewerk deur nuwe handelstransaksies met China, terwyl vervaardiging veral in die Oos-Kaap kwesbaar bly. Mitchell beklemtoon dat beleggersvertroue voortduur, wat die belangrikheid van mark-uitbreiding, strategiese vooruitskouing en bestendige fiskale bestuur onderstreep om die ekonomie bestendig te hou.
Nuus uit die buiteland:
# Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, sê hy kan sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, ontmoet, maar eers nadat sy land veiligheidswaarborge ontvang het. Hy het Switserland, Oostenryk of Turkye as moontlike ontmoetingsplekke genoem. Zelensky wil binne sewe tot tien dae ‘n begrip hê van moontlike veiligheidswaarborge, en beoog dan ‘n driesydige vergadering saam met die Amerikaanse president, Donald Trump. Hy wil nie hê China moet ‘n rol speel in die waarborg van Oekraïne se veiligheid ná Rusland se aanval nie, met verwysing na Beijing se beweerde steun vir Moskou.
# Rugby: Die Haaie verwelkom môre die Westelike Provinsie vir ‘n Curriebeker-kragmeting op Kingspark in Durban. Die tuisspan se afrigter, JP Pietersen, het ses veranderings en ‘n verskuiwing aangebring aan die span wat teen Griekwas verloor het. Jaco Williams skuif terug na vleuel en Hakeem Kunene is heelagter. Jean Smith kom in op losskakel en die vleuel Phikolomzi “PK” Sobahle is terug nadat hy nie verlede naweek gespeel het nie. Liam van Wyk speel haker, Le Roux Coetzee is terug op slot en Tino Mavesere is op flank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-312-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….