Nuus 13:00
BULLETIN 26 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nege SANW-soldate sneuwel in DRK-botsings met M23-rebelle
# Al Jama-ah prys Wet op Onteiening as historiese stap
# En krieket: Suid-Afrika sit sy onoorwonne prestasie voort in die IKR Onder-19 Vroue T20 Wêreldbeker
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het die verlies bevestig van nege soldate in intense botsings met M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo. Altesaam 13 soldate wat in vredesmagte dien het in die jongste botsings gesneuwel. Die magte het daarin geslaag om die rebelle se opmars na die stad Goma in die ooste van die DRK te stuit. Die Franse president Emmanuel Macron het intussen gepraat met die leiers van beide die DRK en Rwanda te midde van wêreldberoepe op ‘n einde aan die geweld, terwyl die Verenigde Nasies alle nienoodsaaklike personeel aan Goma onttrek het.
Die DA het intussen sy beroep herhaal dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag moet onttrek aan die Demokratiese Republiek die Kongo nadat die Suid-Afrikaanse soldate gesneuwel het. Die woordvoerder van die DA Chris Hattingh kritiseer die SANW se gebrek aan kommunikasie en bevraagteken sy voorbereidheid na jare se begrotingsbesnoeiings. Hy eis ‘n einde aan die ontplooiing te midde van die eskalerende konflik:
# Die leier van Al Jama-ah, Ganief Hendricks, prys die Wet op Onteiening as ‘n mylpaal vir grondhervorming. Hendricks sê die party is vasberade om plaasbewoners te beskerm, veral in gebiede soos die Paarl en Robertson, waar apartheid-era-styl uitsettings voortduur. Hy beloof om die ongeregtighede aan te spreek deur die Ministerie van Maatskaplike Ontwikkeling en billike grondverspreiding en permanente verligting vir woonarbeiders te verseker:
# President Donald Trump sê hy glo Amerika sal beheer oorneem oor Groenland nadat hy hernude belangstelling getoon het om die outonome Deense gebied aan te skaf. Hy het Saterdag aan verslaggewers op Air Force One gesê die eiland se 57-duisend inwoners wil deel van Amerika wees. Die eerste ministers van Groenland en Denemarke het egter beide vroeër gesê die eiland is nie te koop nie. Groenland lê op die kortste roete tussen Noord-Amerika en Europa, wat dit strategies belangrik maak vir die VSA. Dit huisves ook ‘n groot Amerikaanse ruimte-instelling.
# En krieket: Suid-Afrika se Onder-19 Vroue het steeds beïndruk in die IKR Onder-19 Vroue T20 Wêreldbeker Maleisië 2025-toernooi met hulle sewe-paaltjie-oorwinning teen Ierland in hulle eerste Super Sesse-kragmeting. Gure weer het die wedstryd tot tien beurte per span beperk, en Ierland het eerste gekolf. Danksy ‘n indrukwekkende boulvertoning deur Monalisa Legodi en die kaptein, Kayla Reyneke, is Ierland uitgeknikker vir 35 lopies. Suid-Afrika het die teiken maklik bereik vir die verlies van net drie paaltjies. Hulle speel Dinsdag teen Amerika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….