Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Bosbou sê Amerika se onttrekking aan die Paryse Ooreenkoms is ‘n terugslag vir klimaatspogings
# Die wêreld se koffieprys gaan styg as gevolg van klimaatsverandering
# En, rugby: Die Blitsbokke skrik groot teen Amerika maar wen in die laaste minuut
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het Amerika veroordeel vir sy onttrekking aan die Paryse Ooreenkoms en sê dis skadelik vir multi-lateralisme en internasionale reg. Hy is teleurgesteld oor die besluit en wys op Amerika se geskiedkundige rol in uitstralings en sy morele verpligting om klimaatsoptrede te lei. George het die VSA gevra om sy verbintenisse na te kom en beklemtoon die belangrikheid van die ooreenkoms om die globale klimaatskrisis gesamentlik aan te pak.
Die wêreld se koffiepryse gaan intussen na verwagting styg weens die uitwerking van klimaatsverandering. Brasilië, wat die wêreld se grootste koffieprodusent is, word die swaarste getref en loop deur onder warm weerpatrone en vele bosbrande wat koffie-oeste ernstig benadeel. In Viëtnam het ‘n ernstige droogte, gevolg deur swaar reën, die wêreld se grootste robusta-voorraad beskadig. Dié soort koffie is wêreldwyd die tweede gewildste variëteit en word gewoonlik in kitskoffiemengsels gebruik. Navasha Pather van Nestlé het aan eNCA gesê koffiepryse kan vanjaar met 30- tot 40-persent styg:
# Die Stad Johannesburg sê bewerings in ʼn artikel op die webblad, Currency, oor die Johannesburgse Kunsgalery se versameling wat tans in Suid-Korea uitgestal word, is ongegrond. Volgens die artikel is die besluit om 145 waardevolle kunswerke van die staatsbeheerde galery in die Asiese land uit te stal, in geheimsinnigheid gehul en die galery se komitee is glad nie geraadpleeg nie. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê al die regte prosesse is noukeurig gevolg:
# Rugby: Ronald Brown se drie in die doodsnikke het die Blitsbokke gered van ʼn rampspoedige begin in die sewestoernooi in Perth. Suid-Afrika het Amerika 24-19 geklop nadat hulle tot die laaste minuut 17-19 agter was. Ricardo Duarttee en Quewin Nortjé het vroeg gedruk vir die Blitsbokke, maar Impi Visser se geelkaart halfpad deur die eerste helfte was die keerpunt. Will Chevalier het twee keer gedruk en Amerika was rustyd 14-12 voor. Die Blitsbokke speel later vandag teen die gashere, Australië, en môreoggend teen Argentinië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-547-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-775-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Vyf-en-twintig reuse-panda-welpies in China het hul eerste openbare verskyning gemaak as deel van die komende Chinese Nuwejaarsvierings op 29 Januarie. Die welpies kom onderskeidelik van die Chinese bewaring-en-navorsingsentrum vir die reuse-panda, en die Chengdu-navorsingsbasis vir reuse-panda-teling. Die getalle en geboortesyfer van reuse-pandas in die natuur is gevaarlik laag, dus is teelprogramme noodsaaklik om die bevolking te onderhou. Die aantal reuse-pandas het gegroei van een-duisend-100 in die 1980’s tot byna een-duisend-900 vandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….