Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesotho se regering is gereed om te help met die repatriasie van Stilfontein-slagoffers
# Tennis: Sinner en Swiatek word aangewys as ITF se wêreldkampioene vir 2024
# En ‘n Kaapstadse hoërskool is nou ’n selfoonvrye skool
# Die regering van Lesotho het sy steun aan Suid-Afrika beloof met die repatriasie van die liggame van Basotho-burgers wat in die Stilfontein-myn in Noordwes vasgekeer was. Lesotho se minister van Binnelandse Sake, Lebona Lephema, het aan SABC News gesê hul ambassade wag op amptelike kommunikasie aangesien baie oorledenes onbekend is weens ‘n gebrek aan dokumentasie. Hy versoek die vinnige opsporing van Lesotho-vrystellingsdokumente om onwettige immigrasie te vermy:
City Power in Johannesburg vra wetstoepassingsagentskappe intussen om te help om onwettige mynwerkers te verwyder wat in tonnels onder die middestad leef en koperkabels steel. Dit volg na ‘n voorval die naweek toe City Power se sekerheidswagte en die zama-zamas in tonnels op mekaar geskiet het. Volgens berigte is twee vermeende diewe dood en ‘n veiligheidswag gewond. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê daar moet onmiddellik opgetree word:
# Tien mense is dood en 32 beseer toe ‘n brand ‘n hotel die gewilde Kartalkaya-ski-oord in die noordweste van Turkye verswelg het. Die privaat uitsaaier NTV sê drie mense is dood nadat hulle by die hotel se vensters uitgespring het. Die oord is bo-op ‘n berg geleë, sowat 170 kilometer noordwes van die hoofstad, Ankara. Die brand, wat volgens berigte omstreeks middernag in die restaurant ontstaan het, het vinnig versprei. ‘n Deel daarvan het tot teen ‘n krans versprei, wat brandbestryders se taak bemoeilik het.
# Tennis: Jannik Sinner en Iga Swiatek is die Internasionale Tennisfederasie se wêreldkampioene vir 2024. Sinner, van Italië, is tans die voorste manspeler terwyl Aryna Sabalenka van Belarus vir Swiatek van Pole verbygesteek het op die vroue-ranglys. Sinner het verlede jaar in die Australiese Ope sy eerste Grand Slam-titel ingepalm en daarna ook die Amerikaanse Ope gewen. Swiatek het nog ‘n Franse Ope-titel gebuit om haar Grand Slam-telling na vyf te neem, en het ook Olimpiese brons gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-321-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-719-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-78-sent per vat.
# En ten slotte: Die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad is van vanjaar ʼn selfoonvrye skool. Leerders plaas hul selfone voor skool in hulle sluitkassies en kan dit eers weer ná skool gebruik. Die skoolhoof, Pieter Rademeyer, het aan Die Burger gesê die doel is om dissipline en angstigheid onder leerders te bestuur. Hy sê die personeel en beheerliggaam het die beleid eenparig aanvaar en slegs twee uit die sowat 500 leerders het daaroor gekla.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….