Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa woon die Mosambiekse presidensiële inhuldiging by
# Minister Mchunu sê ondersoeke duur voort om die baasbreine van die Stilfontein onwettige mynbou aan te keer
# En, rugby: Die Bulle mik steeds na die uitklopfases van die Uitdaagbeker
# President Cyril Ramaphosa is in Maputo vir die inhuldiging van Mosambiek se verkose president, Daniel Chapo, ná die verkiesing op 9 Oktober. Dit volg te midde van voortdurende betogings terwyl die opposisieleier, Venancio Mondlane opnuut die onrus aanmoedig. Die Presidensie sê in ‘n verklaring die geleentheid is ‘n stap in die rigting van vrede en ontwikkeling in Mosambiek. Ramaphosa het sy verbintenis uitgespreek om bilaterale betrekkinge te versterk en eenheid onder Mosambiekers te ondersteun. Ramaphosa word vergesel deur die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, en die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê owerhede verskerp pogings om die sindikaatbase agter die onwettige mynbedrywighede in Stilfontein, Noordwes, vas te trek. Meer as 60 liggame is gister uit die mynskag gebring tydens ‘n reddingsoperasie van die regering. Mchunu bevestig die herwinning van plofstof, toerusting en goud ter waarde van meer as 52-miljoen-rand. Hy waarsku teen onwettige mynbou aangesien dit die ekonomie en die mynbousektor raak:
# BOSA erken hoe belangrik dit is om ‘n gladde begin van die akademiese jaar te verseker, en het die Skoolklagte-blitslyn van stapel gestuur om uitdagings in die onderwys aan te spreek. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons sê alle bekommernisse wat die blitslyn ontvang, sal noukeurig saamgestel en aan die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, en die Parlement se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys voorgelê word vir dringende aandag en oplossings:
# Een van Viëtnam se grootste TV-uitsaaiers is van vandag af gesluit as deel van omvattende burokratiese hervormings wat die staat se arbeidsmag landwyd met 20-persent sal verklein. Die regerende Kommunistiese party wil die politieke stelsel meer vaartbelyn maak om rompslomp en besteding te verminder. Die hervorming sluit in dat agt ministeries en regeringsagentskappe afgeskaf word terwyl media-organisasies geherstruktureer word. Senior amptenare beskryf die hervormings as ‘n “rewolusie”. Die TV-stasie VTC, die tweede gewildste in Viëtnam, en sy 13 kanale het gister die laaste keer uitgesaai.
# Rugby: Die Bulle is nie meer aanspraakmakers vir die Kampioenebeker nie maar is steeds vol vertroue om vir die Uitdaagbeker te kwalifiseer. Die span van Pretoria speel Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria teen die Franse klub, Stade Français. Indien hulle vyfde in hulle groep eindig, kan hulle kwalifiseer vir die laaste 16 van die tweede vlak Uitdaagbeker. Om dit reg te kry moet hulle die Franse span met ‘n bonuspunt en meer as 22 punte klop sonder enige bonuspute vir die besoekers. Afskoptyd is Saterdag om 3-namiddag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-287-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-685-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….