Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Departement van Basiese Onderwys ondersoek die beweerde uitlek van matriekuitslae
# ‘n Voormalige spioenbaas en rolspeler in die vreedsame oorgang, Niël Barnard sterf
# En, tennis: Frances Tiafoe gooi op op die baan, maar wen in vyf stelle
# Die Departement van Basiese Onderwys bevestig ‘n moontlike oortreding met matriekuitslae. ‘n Johannesburgse maatskappy, Edumarks, word ondersoek omdat hy na bewering matriekuitslae vir 2024 vir 100-rand aan leerders verkoop het. Dit is nog voor die uitslae amptelik deur die departement bekend gemaak is. Minister Siviwe Gwarube sê Staatsveiligheid en die Valke stel ondersoek in en het onderneem dat arrestasies sal volg:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum verwelkom die Hooggeregshof in Pretoria se bevel vir die regering om die onwettige mynwerkers in Stillfontein in Noordwes se lewens te red. Die Forum se president, Marothi Mashashane sê hulle is teleurgesteld omdat president Cyril Ramaphosa weer stilgebly het oor ‘n regstreekse skending van die grondwet ná minister Khumbudzo Ntshavheni in die openbaar aangekondig het die regering wou die onwettige mynwerkers uitrook:
# ʼn Voormalige hoof van Suid-Afrika se Nasionale Intelligensiediens en belangrike rolspeler in onderhandelinge vir ‘n vreedsame oorgang, dokter Niël Barnard, is na ‘n lang stryd met kanker in die ouderdom van 75 oorlede. Barnard het agter die skerms oudpresident Nelson Mandela en voormalige presidente, PW Botha en FW de Klerk voorberei vir Mandela se vrylating. Barnard en ’n kollega was die eerste verteenwoordigers van die apartheidstaat wat in die geheim in Switserland met die ANC vergader het. Hy word oorleef deur sy vrou, Engela, twee seuns en vyf kleinkinders.
# Iran sal vandag en môre kernkrag-samesprekings voer met Frankryk, Brittanje en Duitsland, slegs ‘n week voor die verkose Amerikaanse president, Donald Trump in die Withuis intrek. Dit is die tweede ronde samesprekings oor Iran se kernkragprogram in minder as twee maande, nadat ‘n vergadering in November in Genève, Switserland, tussen Teheran en die drie Europese lande gehou is. Rolspelers sê dit is nie onderhandelinge nie, dit is bloot raadpleging oor ‘n wye reeks onderwerpe. Iran het gesê hul hoof-doelwit is om sanksies teen die land te verwyder.
# Tennis: Frances Tiafoe erken dit was so hittete of hy het tou opgegooi nadat hy op die baan opgegooi het tydens ʼn uitmergelende oorwinning in vyf stelle by die Australiese Ope. Die Amerikaner het op ʼn kritieke oomblik siek geword met die vierde stel op 5-6 teen die Fransman, Arthur Rinderknech. Hy kon verder speel en het uiteindelik na 4 uur en 8 minute met 7-6, 6-3, 4-6, 6-7 en 6-3 geseëvier. Tiafoe se wedstryd was in die middel van die dag, maar hy glo hy was geoorhidreer en blameer nie die hitte nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-882-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-685-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….