Nuus 13:00
BULLETIN 12 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP-ondervoorsitter versoek opbouende debat te midde van alliansie-uitdagings met die ANC
# Die Gautengse Verkeerspolisie vra padgebruikers om veiligheid voorop te stel in die vakansie-verkeer
# En Tennis: Reën veroorsaak chaos op dag een van die Australiese Ope
# Die SAKP se adjunk nasionale voorsitter, Thulas Nxesi, sê die party se besluit om in die 2026 plaaslike regeringsverkiesing mee te ding is ‘n partybesluit. Die party se hoofsekretaris, Solly Mapaila beskuldig die ANC dat hy sy vennote uitverkoop. Nxesi het ondersteuners tydens die ANC se 113de verjaardagvierings in Khayelitsha toegespreek en die SAKP se verbintenis tot die drieparty-alliansie beklemtoon. Hy het ook alliansieleiers aangemoedig om aan opbouende debatte oor dringende kwessies deel te neem:
# Die Gautengse Verkeerspolisie het ‘n beroep gedoen vir waaksaamheid en die nakoming van verkeerswette met die vakansieverkeer wat vandag ‘n hoogtepunt bereik. Die woordvoerder, Sello Maremane, sê opeenhopings word op die hoofroetes verwag, insluitend op die N1, N3 en N12. Maremane sê dis belangrik om voertuie na te gaan, om by die spoedbeperkings te bly en voetgangers in ag te neem. Hy sê wetstoepassingsagentskappe sal hul bedrywighede verskerp om veiligheid te verseker:
# AZAPO het kommer uitgespreek nadat die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, verklaar het 450 werklose gekwalifiseerde dokters kan nie aangestel word nie weens begrotingsbeperkings. Hy het werklose dokters versoek om werk in die privaat sektor of internasionale werk te oorweeg. Die land ervaar egter kritieke tekorte in openbare hospitale. AZAPO het gewaarsku dat sonder sistemiese verandering die armes in die land in ‘n siklus van onvervulde beloftes vasgevang sal bly. Die party het gevra vir hervormings om bestuur te verbeter en openbare welsyn eerste te stel.
# Die Openbare Gesondheidsowerheid in die distrik van Los Angeles het ‘n plaaslike gesondheidsnoodtoestand verklaar met die rook en as van veldbrande wat swak luggehalte veroorsaak. ‘n Verklaring dui aan die brande en sterk wind het reeds die luggehalte ernstig verswak, en hou onmiddellike en langtermynrisiko’s vir openbare gesondheid in. Die gesondheidsowerheid het mense wat nie hoef te ontruim nie versoek om binnenshuis te bly, hul vensters en deure toe te hou en lugversorgers te gebruik om die lug te suiwer. ‘n Masker word aanbeveel vir mense wat wel na buite moet gaan.
# Tennis: Toeskouers by die Australiese Ope het na die toernooi se geskenkwinkel gestroom om poncho’s teen 300-rand elk te koop toe nat weer chaos veroorsaak het op die openingsdag van die Grand Slam. ‘n Kwart van die geskeduleerde enkelspelwedstryde moes gekanselleer word as gevolg van die aanhoudende reën en ondersteuners wat nie gelukkig genoeg was om ‘n kaartjie vir die onderdak-hoofbane te hê nie, het orals op Melbournepark skuiling teen die elemente gesoek. Die hoofgeskenkwinkel se poncho’s was vroegmiddag uitverkoop en sambrele, teen sowat 450-rand elk, het soos soetkoek verkoop wat personeel gedwing het om voorraad gereeld aan te vul.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….