Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FlySafair versoek billikheid in die Nasionale Verbruikerskommissie se oorbesprekings-ondersoek
# Die wonderwerk-baba wat die botsing op Van Reenenspas oorleef het, se familie word opgespoor
# En, tennis: Jessica Pegula, Tommy Paul, Sebastian Korda en Felix Auger-Alliassime deur na die Adelaide halfeindstryde
# FlySafair verwelkom die Nasionale Verbruikerskommissie se ondersoek na oorbesprekingspraktyke en beklemtoon hy voldoen aan die Wet op Verbruikersbeskerming. Die lugredery sê oorbespreking is ‘n wêreldwye standaard om die versuim om op te daag te bestuur en die kaartjies bekostigbaar te hou. Die hoofbemarkingsbeampte, Kirby Gordon, sê FlySafair se benadering raak minder as een-persent kapasiteit. Hy versoek ‘n regverdige hersiening wat die hele bedryf betrek en bevestig deurentyd sy verbintenis tot deursigtigheid en kliëntediens:
# Die LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings in KwaZulu-Natal, Siboniso Duma sê die wonderwerk-baba, wat ‘n gru-ongeluk oorleef het, se familie is in Gauteng gevind. Sewentien mense het gesterf in die ongeluk tussen ‘n vragmotor en ‘n minibustaxi op die Van Reenenspas. Die LUR se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê die baba se naasbestaandes is opgespoor en woon tans in Tembisa, Ekurhuleni. Hy sê sy het saam met haar grootouers gereis. Die grootouers en vier ander familielede het in die botsing gesterf:
# Mosambiek se hoofopposisieleier het vandag na meer as twee maande in ballingskap na Maputo teruggekeer. Venâncio Mondlane sê hy is gereed vir samesprekings oor die betwiste verkiesingsuitslae wat tot weke se dodelike betogings gelei het. Mondlane het sy ondersteuners versoek om hom by sy aankoms te ontmoet, maar veiligheidsmagte het toegang tot die lughawe beperk. AFP berig veiligheidsmagte het by een van verskeie versperrings rondom die gebied ‘n man in ‘n groep van sowat 200 mense geskiet en gewond.
# Tennis: Die topgekeurdes, Jessica Pegula en Tommy Paul, is albei deur na die halfeindronde van die Adelaide Internasionale toernooi. Pegula het Ashlyn Krueger 6-4, 2-0 uitgeskakel wat weens uitputting moes onttrek. Liudmila Samsonova van Rusland het die tweede gekeurde Emma Navarro met 6-4, 6-4 geklop. Paul het Australiër, Rinky Hijikata, met 6-3, 6-4 verslaan en speel teen Felix Auger-Aliassime, van Kanada. Miomir Kecmanovic van Serwië het ‘n kwalifiseerder verslaan en speel teen die tweede gekeurde Amerikaner, Sebastian Korda, wat deur is na die onttrekking van Australië se Thanasi Kokkinakis.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-441-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-664-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-75-sent per vat.
# Ten slotte: Antarktiese see-ys het in Desember herstel na ‘n lang tydperk van rekordlaagtepunte. Mense wonder nou nie meer of die bevrore vasteland van die aarde permanent kan verander nie. Die Amerikaanse Nasionale Sneeu- en Ysdatasentrum sê die tempo van verlies aan see-ys gedurende die warmer lentemaande in November en Desember het tot heelwat onder die gemiddelde verlangsaam. Dit volg op lang tydperke van ‘n daaglikse rekord tot ʼn bykans rekordlaagtepunt in 2023 en 2024, die warmste jare op rekord vir globale temperatuurstygings wat deur klimaatsverandering gedryf word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….