Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU veroordeel ArcelorMittal SA se besluit om bedrywighede te sluit
# Amerika plaas Tencent op lys van maatskappye wat met Chinese weermag verbind word
# En, tennis: Jannik Sinner berei vir die Australiese Ope voor met ‘n vertoonwedstryd in Melbourne
# SAFTU veroordeel ArcelorMittal Suid-Afrika se besluit om sy bedrywighede in Newcastle, KwaZulu-Natal en Vereeniging in Gauteng te sluit, aangesien dit tot die verlies van drie-duisend-500 werksgeleenthede kan lei. Mogoshadi Maserumule van SAFTU, sê die sluiting sal verder ‘n ernstige uitwerking hê op waardekettings wat van plaaslike staalproduksie afhanklik is:
# Met skole wat volgende Woensdag heropen, is Dear South Africa nog meer besorg oor die BELA-wet. Die organisasie hou vol die ondertekening van die wet maak inbreuk op die demokratiese regte van die publiek. Woordvoerder van Dear South Africa, Nolu Maki, bevraagteken hoe openbare deelname in die besluitnemingsproses vervat is:
# Aandele in Naspers en sy Amsterdamse filiaal, Prosus, het vanoggend sowat agt persent teruggesak nadat die Amerikaanse Departement van Verdediging die tegnologiereus, Tencent, by ‘n lys maatskappye gevoeg het wat volgens hom met Beijing se weermag verbind word. Die lys hou geen regstreekse regsimplikasies vir die betrokke maatskappye in nie, maar dit kan hul reputasie beïnvloed. China beskuldig Washington van die onredelike onderdrukking van Chinese ondernemings. Tencent is een van die groot name in die uitgebreide tegnologiesektor in China en bedryf benewens die “super-toepassing” WeChat, ook speletjies, inhoudstroming en wolkdienste.
# McDonald’s in die VSA sê hy sal van sy diversiteitspraktyke afskaal en word daarmee die jongste organisasie wat sy beleid heroorweeg, na ‘n Hooggeregshof-uitspraak wat regstellende aksie in universiteitstoelating beëindig het. Volgens die veranderings sal verskaffers nie langer gevra word om aan sekere diversiteits-, gelykheids- en insluitingsteikens te voldoen nie en onttrek aan eksterne opnames wat korporatiewe diversiteit meet. McDonald’s se aankondiging volg na soortgelyke skuiwe deur groot handelsmerke soos Ford, John Deere, Harley-Davidson en Jack Daniel’s, in wat beskou word as ‘n terugslag vir sogenaamde politieke korrektheid in Amerika.
# Tennis: Wêreld nommer een, Jannik Sinner, sê sy “ongelooflike” 2024 is geskiedenis terwyl hy hom voorberei vir die verdediging van sy Australiese Ope-titel met ‘n klipharde oorwinning in ʼn vertoonwedstryd op die hoofbaan by Melbourne. Die Italianer het ʼn droomjaar beleef nadat hy eers sy eerste Grand Slam-toernooititel op Melbourne Park ingepalm het en daarna die Amerikaanse Ope en die ATP-eindtoernooi gewen het. Die vertoonwedstryd was ʼn taai toets teen die Australiese wêreld nommer 25, Alexei Popyrin, en hy het uiteindelik met 6-4, 7-6 koning gekraai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-824-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-640-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….