Nuus 13:00
BULLETIN 5 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Druk verkeer en ongunstige weerstoestande word op die N3-tolroete verwag
# Informele nedersettings in Johannesburg toon groot waterverliese
# En Krieket: Cameron Bancroft van Australië breek sy neus en skouer in ‘n fratsongeluk
# Die N3 Tolkonsessie sê swaar verkeer, met meer as twee-duisend voertuie per uur word vandag op die N3-tolroete noordwaarts na Gauteng verwag. Die woordvoerder, Thania Dhoogra sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku teen ontwrigtende reën en storms wat vanaf vandag tot Woensdag kan voorkom. Sy sê hierdie tyd van die jaar is baie dele van die N3-tolroete in die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Gauteng geneig om erge donderstorms, swaar reën en hael te kry:
Intussen is sewe-duisend-448 mense oor die feestyd op Suid-Afrikaanse paaie in hegtenis geneem vir verskeie oortredings, ondermeer vir bestuur onder die invloed, spoedoortredings en pogings tot omkopery. Die Padverkeersbestuurskorporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê tot dusver is meer as 1,1-miljoen voertuie afgetrek en nagegaan as deel van die feestyd-veiligheidsplan wat daarop gemik is om veiligheid op die nasionale paaie te bevorder. Hy stem saam rytoestande mag weens die weer dalk vererger:
# Johannesburg Water sê hy sal sy massa-ontkoppelingsprogram in alle informele nedersettings in die stad verskerp, aangesien daar groot verliese aangeteken is. Die woordvoerder, Nombuso Shabalala, sê die watervoorsiener gaan voort om daagliks nominale dienste te lewer met watertenkwaens wat die ongeveer 36-duisend huishoudings in informele nedersettings voorsien. Shabalala sê ook Johannesburg Water verskaf chemiese toilette vir sanitasie:
# Die redakteur van Vogue, Anna Wintour, die hoofsanger van U2, Bono, die miljardêr, George Soros en die Amerikaanse politikus, Hillary Clinton is van die ontvangers aan wie die uittredende president, Joe Biden, die VSA se hoogste burgerlike eerbewys toegeken het. Die Presidensiële Medalje van Vryheid is vanjaar aan 19 mense toegeken, van kulturele helde en politici tot kampvegters. Die Withuis sê hulle is gekies omdat hulle goeie mense is wat uitsonderlike bydraes gelewer het. Die medalje word volgens diskresie van die president toegeken en op advies van ‘n eksterne paneel.
# Krieket: Die Australiese internasionale speler, Cameron Bancroft het sy skouer en sy neus gebreek toe hy en sy spanmaat, Daniel Sams tydens ‘n Big Bash League-wedstryd in mekaar vasgehardloop het. Albei spelers is in die hospitaal opgeneem ná Vrydag se voorval op die veld teen Perth Scorchers, toe hulle dieselfde bal gejaag het. Bancroft is in 2018 vir nege maande geskors was weens ‘n balpeuterskandaal teen Suid-Afrika. Albei spelers het harsingskudding opgedoen met bloed wat uit Bancroft se neus gestroom het. Die twee sal minstens die volgende vier Big Bash League-wedstryde misloop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….