Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC-jeugliga in Gauteng eis onmiddellike optrede teen die uitvoerende hoof van ‘n akademie oor ‘n studentefooi-krisis
# Krieket: Scott Boland en Mitchell Starc verwoes Indië se kolflys en is in beheer in vyfde toets
# En, Milaan stel Italië se strengste reëls oor rook in
# Die ANC-jeugliga in Gauteng het gevra vir die onmiddellike verwydering van die uitvoerende hoof van die Gauteng City Region Academy. Growwe onbevoegdheid en nalatigheid by die akademie het toppresterende studente daarvan weerhou om vanjaar hul klasgelde te kan betaal of vir hul studies te registreer. Die provinsiale woordvoerder, Kgotso Pooe, sê die Jeugliga eis optrede teen die instelling se uitvoerende hoof:
# Die Lanseria Internasionale Lughawe het ‘n Tik-en-Vlieg outomatiese instapstelsel bekendgestel om die proses te vaartbelyn. Die stelsel is in vennootskap met FlySafair en die Turkse maatskappy, TAV Technologies, ontwikkel en is deel van die lughawe se strategie om in 2025 meer vlugte en passasiers vanaf Afrika-bestemmings te huisves. Uitvoerende hoof, Rampa Rammopo, wil hê die lughawe moet ‘n sleutelspeler in die groeiende Afrika-reismark word:
# Sirië se nuwe leiers het veranderings aan die onderwysleerplan aangekondig, wat aktiviste veroordeel as “ekstremisties” en moontlik skadelik vir godsdiensminderhede. Dit gebeur net minder as ‘n maand nadat magte gelei deur die Islamitiese groep, Hayat Tahrir al-Sham vir Bashar al-Assad omvergewerp het. Die veranderings sluit in die skrap van gedigte oor vroue en liefde en die interpretasie van verse uit die Koran oor diegene wat God kwaad gemaak het as verwysend na “Jode en Christene”. Die volkslied is ook uit handboeke verwyder, met die ministerie wat sê dit behoort aan die Assad-regime.
# Krieket: Scott Boland en Mitchell Starc het die Indiese kolflys sonder Rohit Sharma verpletter en Australië is aan die einde van die eerste dag van die vyfde en laaste toets in Sydney in ‘n baie sterk posisie. Die besoekers is almal vir 185 uitgehaal nadat kaptein, Jasprit Bumrah, besluit het hulle gaan eerste kolf. Boland was die suksesvolste met 4 vir 31 en Starc het 3 vir 49 laat kantel. Australië het in antwoord die paaltjie van Usman Khawaja met die laaste bal van die dag van Bumrah verloor en was met uitskeityd op 9 vir 1.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-363-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-52-sent per vat.
# Ten slotte: Italië se finansiële en modehoofstad, Milaan, het rook in alle openbare ruimtes, insluitend strate, verbied. Enigiemand wat sedert die begin van die jaar ʼn dampie in die buitelug maak, kan met tot vier-duisend-600-rand beboet word. Die land se Departement van Gesondheid sê dit is die strengste rookverbod in Italië, waar byna ‘n kwart van die bevolking rook. Die enigste uitsondering is wanneer mense in afgesonderde plekke en minstens tien meter van ander mense af is. Die verbod sluit nie damprook of elektroniese sigarette in nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….