Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sinchroniseer Koeberg se Eenheid 2 suksesvol met die nasionale netwerk
# Rusland en Oekraïne ruil honderde krysgevangenes uit
# En, rugby: ‘n Goeie jaar vir die Bokke
# Eskom het Eenheid 2 van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad suksesvolg gesinchroniseer met die nasionale netwerk. Dit volg na weke se uitvoerige opgraderings. Die opgradering sluit in die vervanging van drie stoomopwekkers, inspeksies en herlaai van brandstof, wat die bedryfs-lewensduur van die eenheid met 20 jaar verleng. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die opgraderings stem ooreen met Eskom se doelwit om vermoë teen Maart tot twee-duisend megawatt te verhoog:
# Noodpersoneel het gereageer op ‘n brand by Transnet, naby Teakwoodweg in die Jacobs-omgewing in Durban. Die brand, wat laat gisteraand uitgebreek het, is blykbaar in ‘n dieselbrandstof-pypleiding. Geen beserings is aangemeld nie, maar owerhede het nabygeleë inwoners en ondernemings opdrag gegee om te ontruim as voorsorgmaatreël. Verhoogde sekerheid word vandag verwag, terwyl ontwrigtings in plaaslike vervoer en ondernemings ook waarskynlik is.
# Rusland en Oekraïne het honderde krygsgevangenes uitgeruil in ‘n ooreenkoms wat bemiddel is deur die Verenigde Arabiese Emirate. Die Russiese ministerie van Verdediging sê hy het 150 gevange Oekraïense soldate uitgeruil vir dieselfde aantal Russiese soldate. Amptenare in Kiëf het aan die BBC gesê onderhandelings oor die uitruil van gevangenes het die afgelope paar maande moeiliker geword nadat Russiese magte groot vordering begin maak het op die krygsfront. Oekraïne maak nie sy aantal krygsgevangenes bekend nie, maar die totaal word beraam op meer as agt-duisend.
# Rugby: Die Springbokke sluit die jaar boaan die wêreldranglys af vir die sesde keer sedert dit in 2003 bekendgestel is, en die vyfde keer die afgelope ses jaar. Die Bokke het die eerste keer in 2007 die prestasie behaal nadat hulle die Wêreldbeker in Frankryk gewen het, met die All Blacks wat tweede op die ranglys was. Volgens SARugbyMag was die Suid-Afrikaners se langste termyn as nommer een ‘n volle 98 weke, van 4 November 2019 tot 20 September 2021, en hulle is sedert 2003 altesaam 250 weke heel bo.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-899-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-613-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sal môre op Nuwejaarsdag by ma’s aansluit om hul nuwe babas te verwelkom. Sy sal ook met ouers praat oor hoe belangrik dit is om hul babas so gou moontlik ná geboorte by Binnelandse Sake se kantore in hospitale te registreer. Die departement se hoof van Kommunikasie, Motalatale Modiba, sê die LUR sal ook die nuut-uitgebreide neonatale intensiewesorg-eenheid in die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal amptelik oopstel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….